Pluimbalspelers vertoon uitstekend in Kimberley

0
739
RUFUS BOTHA

Die Vrystaat se voorste pluimbalspelers wat grotendeels uit Bloemfonteiners bestaan het die naweek in die o.15-ouderdomsgroep behoorlik amok gemaak by die Kimberley- ope pluimbaltoernooi.

Daniël Coetzee het drie titels by die gesogte toernooi ingeoes. Hy het in die enkelspel-eindstryd sy Vrystaatse spanmaat en naamgenoot, Daniël Steyn, in ‘n wipplankstryd die loef afgesteek. Coetzee het die eerste stel met 21 – 14 gewen, maar toe kom Steyn met ‘n goeie terugvegpoging en maak die tweede stel sy eie met 21 – 10. Die derde stel was met tye ‘n naelbytstryd, maar Coetzee het uiteindelik die knoop deurgehak met die steltelling op 21 – 17 en ‘n wedstrydoorwinning van 2 – 1.

Daarna het Coetzee met sy broer Stefan kragte gesmee en dié twee het die dubbelspeltitel gerieflik gewen. Die Coetzee-broers het die dubbelspelpaar van die Noord-Kaap, Robert Summers en Nathan van der Nest, met 21 – 17 en 21 – 8 verslaan. In die gemengde dubbelspeleindstryd was dit egter die Coetzee-gesin wat sake téén mekaar uitgespook het vir die titel.

Daniël het toe die puik jong speler van Oos-Londen, Jemma Cronker, aan sy kant gehad terwyl sy broer, Stefan patrioties gebly het en saamgespan het met nog ‘n Vrystater, Ludzi April. Die wedstryd het in ‘n riller ontaard en dit het aanvanklik geblyk of Daniël (Coetzee) en Cronker nie die mas gaan opkom teen die Vrystaatse paar nie. Stefan (Coetzee) en April het die eerste stel gewen (21 – 15). Die tweede en derde stelle het egter in die guns van Daniël en sy Oos-Londense spanmaat geswaai (21 – 17 en 21 – 17) om hulle die titel met twee stelle teen een te besorg.

Megan de Beer het die Vrystaatse vaandel onder die meisies hoog laat wapper toe sy die enkelspeltitel teen die einste Crocker (Oos- Londen) in ‘n titaniese stryd gewen het. Die telling was 15 – 21, 22 – 20 en 21 – 18. De Beer het ook in die dubbelspel gewys dat sy moeilik geklop gaan word by die nasionale toernooi. Sy en haar Vrystaatse spanmaat, Zoë Bezuidenhout, het dié titel gebuit om die Vrystaat kop en skouers bo die res te laat uittroon by die toernooi.