Pluimbal Ope slaan in Bloem af

0
374
Aiden Dednam. FOTO: FLORIN AFRENIE

Wedstryde vir die o.13 Vrystaat Ope vir pluimbal, asook die Nasionale Ope vir o.17, word Saterdag 13 April en Sondag 14 April by Fichardtpark-sportklub aangebied.

Bestuurder van Vrystaat-pluimbal, Chris Dednam, het verduidelik dat daar regoor die land o.13-toernooie aangebied word hierdie naweek, terwyl die Vrystaat die eer het om die o.17 Ope aan te bied. “Meeste van die beste o.17 spelers in die land sal aan die toernooi deelneem,” het hy vertel.

“Die Ope tel vir nasionale punte waarop die nasionale ranglys dan gebou word,” het Dednam gesê. Daar word enkels, dubbels, en gemengde dubbels tydens die Ope gespeel.

“Alhoewel pluimbal nie ’n skolesport is nie, kan skolespelers by klubs aansluit om deel te neem aan dié sport, en Vrystaat pluimbalspelers wys hul krag op nasionale vlak. “Vrystaat pluimbal is steeds van die beste in die land, met topspelers in elke ouderdomsgroep,” het Dednam vertel, “ons is besig om die groter groep spelers weer op te bou.”

Pluimbal in die Vrystaat spog met talle jong sterre, insluitend Caden Kakora en Robert Summers. Altwee het deel gevorm van die Suid-Afrikaanse span by die Afrika Spele in Ghana, en het met ’n bronsmedalje elk teruggekom – Kakora as deel van die SA gemengde dubbels en Summers in die mans dubbels.

Een van die Vrystaat se jong sterre is Dednam se seun, Aiden Dednam, wat die Vrystaat o.19-kampioenskappe gewen het en deel vorm van die o.15 nasionale span, al is hy skaars 12. “Hy het vanaf 23 tot 28 Maart deelgeneem aan die SA o.15- kampioenskappe waar hy brons in die enkels en dubbels verower het en weer ingesluit is in die SA o.15 nasionale groep,” het Chris Dednam vertel, “hy gaan ook probeer amok maak by die o.17 Ope.”

Warren Hawkins

warren@mahareng.co.za