Plan met onderwysassistente ondeurdag, sê Fedsas

0
820
Dr Jaco Deacon, acting CEO of Fedsas

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) sê hy sal slegs die program vir tydelike onderwysassistente steun indien bestaande probleme behoorlik aangespreek word.

Dit kom nadat die Departement van Basiese Onderwys die tweede fase van dié indiensnemingsinisiatief aangekondig het. Sowat 300 000 tydelike onderwysassistente is einde verlede jaar as deel van fase 1 aangestel.

Volgens Fedsas heers daar groot kommer omdat min van die probleme wat met fase 1 van die regering se sogenaamde BEEI-program opgeduik het, aangespreek is.

Dr Jaco Deacon, waarnemende uitvoerende hoof van Fedsas, sê die hele program was ondeurdag en het groot druk op skole geplaas. “Daar was probleme met betalings en kontrakte, en ʼn gedeelte van die program was in Desember en Januarie tydens die skoolvakansie,” sê Deacon.

Hy sê hoewel rolspelers genader is om kommentaar te lewer voor die implementering van fase 2, is geen van die kwessies behoorlik aangespreek nie. “In talle provinsies is skoolhoofde gedwing om ongemagtigde en onwettige betalings aan jeugdiges te maak omdat die provinsiale onderwysdepartemente nie hul kant gebring het nie.

“Boonop is van skole verwag om die tydelike werkers op te lei en besig te hou. Skole is ook gedwing om meer jeugdiges te akkommodeer as wat toegelaat word ingevolge Covid-protokol,” sê Deacon.

In ʼn brief aan die Departement van Basiese Onderwys maak Fedsas ‘n gedetailleerde en deurdagte voorstel vir fase 2 en spel ook die rol van skoolbeheerliggame in die inisiatief uit.

Fedsas sal fase 2 van die indiensnemingsinisiatief slegs ondersteun indien alle kwessies behoorlik aangespreek word.

Compiled by Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za