Maricelle Botha
Meer as ’n 1 150 voëlkykers het vroeër vandeesmaand ’n eenmaal-in-’n-leeftyd ekskursie onderneem en 17 Bloemfonteiners was deel daarvan. BirdLife South Africa se Flock at Sea 2013 is die grootste byeenkoms van voëlkykers in Afrika ooit. Wat hierdie ekskursie egter meer spesiaal gemaak het, was dat dit die eerste keer ter wêreld was dat só ’n klomp voëlkykers op ’n passasiersboot saamtrek en nodeloos om te sê, het die klomp entoesiaste ook ’n poging tot ’n Guinness-wêreldrekord aangewend.
Voëlkykers van regoor die land het op 1 Maart aan boord van die MSC Opera gegaan vir ’n vyfdaglange reis na Walvisbaai, Namibië en terug. Tydens die vaart het hulle die geleentheid gekry om verskeie seevoëls van naderby te bekyk, wat hulle moontlik nooit andersins die geleentheid voor sou kry nie.
Een van die Bloemfonteiners op die skip was Werner Sinclair. Hy vertel dat BirdLife SA sowat ses uitkykpunte op die skip identisfiseer het waar seevoëlkenners voëls uitgewys het. “Soms kom die voëls so vinnig verby dat jy sukkel om hulle te identifiseer, maar met die hulp van die gidse het jy ten minste ’n beter kans gehad om dit te sien,” vertel hy. Hy self het twee nuwe “lifers”, voëls wat hy nog nooit vantevore gesien het nie, identifiseer. Sinclair het self al meer as 840 spesies in Suider-Afrika gesien. “Die meeste mense het voëls gesien wat hulle nog nooit voorheen gesien het nie, party selfs 12 verskillende spesies.”
Sinclair vertel dat mense oor die algemeen onder die wanindruk is dat daar nie voëls op die diepsee gesien word nie. Hy sê dit is bykans soos die “Serengeti”. “Hoe dieper jy die see invaar hoe meer seevoëls kom jy teë. As jy uitgaan tot by die Atlantiese oseaanplato (continental shelf) wat by die Kaap sowat 35 na 40 kilometer van die kus af is, sien jy wolke vol voëls,” help hy reg. Hy voeg ook by dat die meeste van die die seevoëls slegs op land kom as hulle broei. Hy meen daar is meer as genoeg eilande in die Atlantiese oseaan vir die voëls om te broei sonder om ooit in hul leeftyd op die vasteland te kom.
Hierdie vaart het vele doelwitte gehad, onder meer om Suid-Afrika se uitgebreide en diverse seevoëls te vier asook die algemene bewusmaking van dié voëls. Maar meer as dit, was dit ’n besonderse ekskursie wat voëlkykers ’n heel ander ervaring gebied het.