Plaaslike skool reageer op beweerde

0
925

ALZANE NARRAIN

’n Plaaslike Bloemfonteinse skool en sy onafhanklike middagstudiekontrakteur is in ’n ingewikkelde regsgeding betrokke. Die kontrakteur wat middagstudie vir die Laerskool Brandwag in Bloemfontein se leerlinge aangebied het dagvaar die skool en die LUR vir onderwys vir R682 000. Die skool het ’n teeneis van R102 300 teen die beslote korporasie Brandwag Primary Aftercare ingestel vir agterstallige huurgeld vir die gebruik van die skool se geriewe om die middagstudie aan te bied.
Die Hooggeregshof sal in Junie volgende jaar daaroor beslis. Volgens die skool se regsverteenwoordiger, Marius van Rensburg, het die LUR geen belang in die saak nie. “Die kontrak is tussen die twee partye. Ek weet nie waarom Johan van der Sandt, wat vir die beheerliggaam opgetree het, die middagstudie kwytgeskeld het van betaling nie. Niemand kan buite die beheerliggaam optree nie,” verduidelik Van Rensburg.
Die beslote korporasie dagvaar die skool vir die bruto inkomste wat hy sou verdien het, maar volgens die skool se teeneis het die beslote korporasie vir die eerste drie jaar en ’n gedeelte van 2012 geen huurgeld betaal nie. Van Rensburg sê die skool se beheerliggaam werk volgens die Grondwet en het in die beste belang van die kinders opgetree.
“Volgens die Suid-Afrikaanse skolewet 58A (4), sal daar nie op die skool se bates beslag gelê kan word nie.” Van Rensburg sê ook dat dit belangrik is dat die kinders nie nadelig benadeel word nie en dat die skool seker maak het die dagvaarding nie ’n negatiewe invloed op die middagstudie nie. Hy sê klasse gaan soos normaal voort.

alzane@centralmediagroup.co.za