Die indrukwekkende talent van plaaslike kunstenaars sal binnekort ten toon gestel word by die Bloem in Concert skouspel.
’n Aantal plaaslike kunstenaars gaan kragte saamsnoer vir ’n onvergeetlike vertoning. Dit is volgens die vervaardiger en organiseerder, Marlou Strydom.
“Mense kan uitsien daarna dat die sangers bietjie uit hul gemaksone geneem gaan word.”
Die kunstenaars is Gerduan Kemp, Cezanne Yzelle, Mario Lategan, Corneil Müller, Arend Brink Jr., Ella Kotze en Lize-Maré Markgraaf. Daar sal ook ’n 11-stuk orkes betrokke wees. Heinrich Lategan, die dirigent en stigter van die Rhapsody Orchestra, doen meeste van die verwerkings en begelei ook die groep.
“Vir my as vervaardiger is die gemeenskap van kunstenaars in Bloemfontein ’n inspirasie. Gedurende die Covid-19 pandemie het die kunste nie net gesukkel nie, dit het tot ’n lang stilstand gekom wat groot skade kon aanrig. Tog was daar die kunstenaars en tegniese maatskappye wat nie net bloot oorleef het nie, maar gestreef het daarna om ’n beter produk te bied. Dit sluit in kunstenaars en maatskappye wat saamgewerk het om ’n aanlyn-produk gedurende die pandemie te lewer, sowel as sangers wat gebruik gemaak het van die tyd om ’n enkelsnit bekend te stel en ook hul platform uit te brei en die kunste in Bloemfontein te bevorder,” sê Strydom.
Bloem in Concert vind op 19 Maart om 19:00 in die Sand Du Plessis Teater plaas. Kaartjies kos R100, of R80 per persoon vir groepe met meer as vyf persone. Kaartjies is beskikbaar by die Pacofs kaartjiekantoor.
Pierce van Heerden