Plaaslike aandelemark sukkel steeds voort

0
1423

Vuisvoos beleggers in Suid-Afrika wonder, met reg, wanneer beter beleggingsopbrengste weer sal kom. Plaaslike opbrengste lyk maar steeds beroerd, terwyl buitelandse markte reeds heelwat beter begin lyk as ‘n tyd gelede.
Markverwante beleggings in die algemeen, groei laer as inflasie en indien jy ‘n maandelikse inkomste uit jou belegging trek, is die kanse goed dat jou kapitaal afgeneem het. Kom ons kyk bietjie na ‘n paar syfers uit die ekonomie tot en met einde Mei 2017.
Die laaste 12 maande is aandele steeds in die laaste plek met 2.2%, gevolg deur genoteerde eiendomme op 3.7%, kontant op 7.6% en effekte wat verreweg die beste presteer het met 13.4%. Uit dié syfers is dit duidelik dat die meer versigtige beleggers bevoordeel is deur hul groter kontant- en effekte-blootstelling bo die meer aggressiewe beleggers se voorkeur-blootstelling aan aandele en eiendom.
Op die lang termyn kan meer aggressiewe beleggers steeds breed glimlag. Oor die laaste vyf jaar het kontant laaste geëindig met ‘n opbrengs van slegs 6.2% per jaar, gevolg deur effekte met 7.5% per jaar, aandele met 13.4% en genoteerde eiendomme met 15.2%.
Bogenoemde dui net weer daarop dat geduld en ‘n goeie beleggingstrategie jou steeds mettertyd sal beloon. Indien ons na die geldeenhede kyk, het die rand teen die Britse pond (34.8%), die Amerikaanse dollar (20.1%) en die euro (18.9%) verstewig.
Oor die laaste vyf jaar is dit egter duidelik dat die rand mettertyd verswak teen die ander geldeenhede. Die rand verswak die laaste vyf jaar teen die Britse pond (22%), die euro (28%) en die Amerikaanse dollar (35%).
Indien ons bietjie wyer na die wêreld kyk, lyk sake soos volg: die plaaslike aandelemark het, soos genoem, 2.2% gedoen oor die laaste 12 maande, terwyl opkomende markte (waarvan Suid-Afrika deel is), as ‘n geheel 6.9% gedoen het. Die ontwikkelde lande se markte het -1.4% gedoen.
As ons dan weer na die langer termyn kyk, het Suid-Afrika oor die laaste 5 jaar 13.4% per jaar gedoen, Opkomende markte het 14.1% gedoen, terwyl ontwikkelde markte 21.7% gedoen het. Hieruit is dit baie duidelik dat die rand nie voorspel kan word nie.
Wat vandag goed doen, gaan waarskynlik nie in die toekoms steeds goed doen nie. Diversifikasie bly die antwoord. Diversifiseer dus ook na die buiteland.
Ek het ‘n volledige markverslag van Investec-batebestuurders beskikbaar. Mense wat daarna wil kyk, kan vir my ‘n e-pos na horace@nassaux.com stuur. – Bron: Investec Batebestuurders – Horace Terry
horace@nassaux.com