VKB en Vrystaat Landbou (VL) se veiligheidslessenaar toon daar was vanjaar 19 aanvalle op plase waarin twee mense vermoor is. Dít teenoor verlede jaar dieselfde tydperk waarin daar 34 plaasaanvalle was en vyf mense vermoor is, wat plaaswerkers, boere en inwoners op kleinhoewes insluit.
Voorsitter van die VL se komitee vir wet en orde, Tommie Esterhuyse, sê dié afname in plaasaanvalle sover vanjaar is goeie nuus, maar hy glo meer kan gedoen word.Volgens hom is daar goeie bestaande samewerking tussen boere, die polisie en lede van die plaaswagstelsel op plaaslike- en gebiedsvlak in die provinsie, wat wel ‘n impak maak om ‘n veilige en volhoubare landboubedryf daar te stel. Meer betrokkenheid is egter nodig.
Hy sê dit is ook goeie nuus dat ses plaasaanvalle die afgelope twee maande in die provinsie voorkom is. Die aanvalle is in Bloemfontein by Bloemspruit en die polisiëringsgebied van Parkweg, en op Bultfontein, Heilbron, Koppies en Petrus Steyn gefnuik.
Hy skryf die sukses toe aan goeie samewerking tussen betrokkenes in die landelike beveiligingsplan. Dit sluit veiligheidskoördineerders, die polisie en spesialis-eenhede in. Die veiligheidslessenaar se betrokkenheid werp ook vrugte af. Daarmee saam was daar ‘n goeie vloei van inligting tussen belanghebbendes gewees. Daar was inligtingskakeling tussen boere, die plaaswagtelsel en die polisie. Esterhuyse sê egter meer mense moet betrokke raak sodat meer sukses behaal kan word. Daar moet proaktief te werk gegaan word.
‘n Handleiding is saamgestel vir die bestaande plaaswagstelsel in plattelandse gebiede en dit verskaf inligting en riglyne aan betrokkenes om veiligheid in landelike gebiede te verskerp.
Die plaaswagstelsel is ‘n primêre rolspeler in die Landelike Beveiligingstrategie (LBS). Dit speel ‘n ondersteunende rol om saam met die polisie ‘n veilige omgewing te skep. Esterhuyse sê die plaaswagstelsel is al in 30 dorpe in die Vrystaat in werking gestel. Dit word hoofsaaklik gedryf deur die gebiedskantore van georganiseerde landbou en behels die patrollering van gebiede en besoeke aan plase.
Plaaswagte word in die handleiding ingelig oor die vloei van inligting wat baie belangrik is ten opsigte van misdaad, tendense en patrone. Die identifisering van verdagte mense en voertuie, wat substantief betrokke is by misdaad op landbougrond, asook die mobilisasie van boere tydens aanvalle op plase word ook bespreek. Daar is ook riglyne oor die insameling van inligting met betrekking tot georganiseerde misdaad wat deur verskillende strukture na die polisie se gespesialiseerde eenhede gekanaliseer word. Die identiteitsprofiele van alle inwoners op plase is ook van belang om te verseker dat boere nie booswigte aanstel nie.
Esterhuyse sê die bestaande strukture, soos onder meer die plaaswagstelsel, vervul ‘n belangrike rol in die skep van ’n veilige landboubedryf in die Vrystaat. – Christal-Lize Muller