MARICELLE BOTHA
Thabo Pitse het oor die jare diep in die harte van Bloemfonteiners gekruip met sy fluweelstem en warm verhoogpersoonlikheid. Geen wonder dat hy hier in ons kontrei bekendstaan as Bloemfontein se liefling nie.
Pitse se derde CD is onlangs bekendgestel en te oordeel aan die terugvoer wat hy reeds van aanhangers ontvang het, lyk dit of hierdie album net so gewild soos die vorige twee gaan wees.
Volgens hom is hierdie CD, getiteld Hello God…My gesprek met die Here, sy beste album nog. “Ek dink die eerste album was soos ’n besigheidskaartjie, met die tweede kon ek wys waartoe ek in staat is, en met hierdie album kon ek alles wat ek tot nou geleer het, toepas,” vertel Pitse.
Die inspirasie agter die 17 snitgospelalbum kom nadat hy Neale Donald Walsch se bekende boek, Conversations with God, gelees het. “Ek het die boek gelees en so het my gesprek met die Here begin.
Ek was eintlik besig oom aan ’n enkelsnit, getiteld “Ek sny jou gras” te werk, toe God vir my gesê het om alles te los en ’n gospelalbum op te neem. Dit is ook van hier waar die
titel van die album kom,” vertel hy.
Hy sê egter dat hy nie ’n gospelsanger is nie. “Ek is gewone ou wat sing en wat ’n pad met die Here stap.” Hoewel hy tans hard aan die werk is om die album te bemark, is hy ook reeds besig om aan die volgende een te dink.
Die album is ’n 100% plaaslike produk. Na ’n paar jaar in Johannesburg het Pitse na Bloem teruggekeer en homself beloof dat hy ’n suksesvolle musiekloopbaan hier sou hê. “Ek het vir myself gesê, alles wat ek wil doen, gaan ek hier doen met plaaslike talent.
Hier is ongeloofl ike geleenthede in sentraal-Suid-Afrika. Met ’n bietjie meer ondersteuning kan ons groot hoogtes bereik.”
Hy voeg by dat publisiteit een van die groot struikelblokke vir plaaslike kunstenaars is. “Die media sal maklik berig oor kunstenaars wat uit Johannesburg of Kaapstad hier kom optree, maar sien nie kans om oor plaaslike talent te skryf nie.” Hy voeg in dieselfde asem by dat die produk darem ook nodig het om
vir homself te praat en dat gehalte die belangrikste is. Pitse het ’n groot passie vir die Vrystaat en ook vir Afrikaans. Sewe van die snitte op Hello God… My Gesprek met die Here, is in Afrikaans en sluit bekende snitte soos “Houtkruis”, “Gebed” en “Sweef soos ’n Arend” in.
Thabo Pitse se Hello God…My Gesprek met die Here is tans by Mimosa Mall se inligtingsentrum sowel as by
die CRC Boekwinkel beskikbaar. Dit sal ook binnekort in Cum Books landwyd beskikbaar wees.
maricelle@centralmediagroup.co.za