Pite kry uiteindelik sy kans

0
831
Die VKB Knights se kaptein, Pite van Biljon, is op 33 uiteindelik gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig in die T20- Internasionale reeks teen Engeland. Indien hy kan beïndruk, kan hy binnekort sy kaartjie bespreek vir die T20-Wêreldbeker wat in September in Australië gespeel word. FOTO: PITE VAN BILJON

Die VKB Knights se kaptein, Pite van Biljon, het die nuutste speler van dié franchise geword om gekies te word vir ‘n Proteas-krieketspan.

Die boorling van Bloemfontein is gekies vir die Suid-Afrikaanse nasionale T20-span in die reeks van drie T20- Internasionale kragmetings teen England wat Woensdag in Oos-Londen begin het.

In Desember 2019 is die kolwer, Keegan Petersen, vir die Proteas se span vir die reeks van vier Toetse teen die Engelse gekies. Dié speler was wel in die groep hoewel hy nie speeltyd gegun is nie. Hy sal sonder twyfel in die volgende jaar of twee sy buiging op die hoogste vlak van die sport maak.

Van Biljon, wat oor die afgelope twee jaar in die Mzansi Superliga sy stem vir albei die Jozi Stars en die Tshwane Spartans dik gemaak het, klop al vir ‘n geruime tyd aan die Proteas se deur, en op 33-jarige ouderdom kry hy uiteindelik die geleetheid.

Verlede seisoen was Van Biljon ‘n uitblinker in die plaaslike vierdag-reeks, en in die huidige seisoen is hy weer eens een van die voorste kolwers in die reeks. Hy staan egter ‘n baie goeie kans om sy nasionale buiging te maak aangesien die T20-reeks die begin is van die Proteas se voorbereiding vir die Internasionale Krieketraad se T20-Wêreldbeker wat in September in Australië sal plaasvind.

Die Proteas se breier, Mark Boucher, wat ook Van Biljon se breier by die Spartans was, het reeds aangedui dat dié span vir die reeks teen die Engelse grootliks dieselfde sal wees as die een wat in Australië sal meeding.

Hoewel dit goeie nuus vir Van Biljon is, is dit vir die Knights ietwat van ‘n kopseer hierdie week aangesien hulle in albei hul vorige twee Momentum Eendagbeker-kragmetings hewige nederlae teen die Dolphins en die Warriors gely het. Die kolfwerk het verval deurgeloop en hoewel van Biljon in die eerste wedstryd gespeel het, sou hulle vandeesweek in Bloemfontein teen die Dolphins met sy dienste kon klaarkom.

Die Oud-Grey het aan Bloemfontein Courant gesê, hoewel hy met ‘n hakskeen-skeet sukkel, hy opgewonde en slaggereed is om sy land te verteenwoordig.

“Ek is baie opgwonde om by die Proteas aan te sluit. Dit was vir ‘n lang tyd al ‘n droom vir my.

“Ek het ‘n besering opgedoen toe ek raakgeslaan is teen die hakskeen. Raynard van Tonder het ‘n dryfhou gespeel en my rug was na die oefennette gedraai toe die bal my hakskeen tref. Van my kant af was dit ‘n dom ding om te doen.

“Die besering het die laaste ruk weer opgevlam, en dus het ek verlede week ‘n blaaskans geneem.

“Ek het nie eers geweet ek sou opgeroep word nie. Ek reken alles gebeur maar vir ‘n rede.”

Hoewel Van Biljon tydens die Suid-Afrikaanse winter sy krieket in Engeland speel, kan sy internasionale buiging daartoe lei dat hy deur ‘n Engelse Graafskapspan opgepik word.

Interessant genoeg, het Van Biljon se jonger suster, Suzaan, Suid-Afrika ook al op die hoogste vlak verteenwordig.

Die oudleerder van Eunice het tydens die 2008- Olimpiese Spele in Beijing, China, en die 2012 Londen-spele in England vir Suid-Afrika geswem. Sy is ook die houer Suid-Afrikaanse sowel as Afrika-rekord. – MORGAN PIEK