PG ‘die sin in SA se mooiste boek’

0
1568

Daar is vandag by die NG Kerk Noord, Potchefstroom, ’n gedenkdiens vir die befaamde Afrikaanse skrywer P.G. du Plessis gehou. Hy is Woensdag in die ouderdom van 83 oorlede ná ’n jare lange stryd teen prostaatkanker.
Die diens is deur ds. Johan Raubenheimer behartig. Een van die huldeblyke aan Du Plessis is gelewer deur sy vriend en medeskrywer, Hans du Plessis. Hy het veral sy vermoë geprys om karakters te skep waarmee lesers hulself kon vereenselwig.
“Hulle is mense wat ek en jy geken het, want hy het hulle geteken met siel. Hulle is geteken dat ons deernis met hulle kan hê, omdat hy deernis in hulle ingeskryf het. Nou, as ek dink aan P.G. du Plessis, dan sal ek aan hom dink as die sin in Suid-Afrika se mooiste boek.”
Du Plessis se vriendin en Aardklop-feesbestuurder, Alexa Strachan, het ook hulde aan hom gebring.
“My respek vir jou op alle vlakke het bloot bly groei. Maar, dit is nie jou invloed op my as kunstenaar wat ek die hoogste ag nie, dis ure op die lang pad, jou gekerm oor ek te vinnig ry en dan te veel wil stop, die effe sardoniese moeilikheid soek met niksvermoedende slagoffers, die goedige geskinder en saam mense-kyk, asook die liefdevolle kuiers om Marie se kombuistafel waaraan ek my verlies die meeste meet.”
Strachan het die Vrydag ná Du Plessis se dood bevestig dat daar tydens vanjaar se Aardklop-kunstefees in Oktober ’n huldeblyk aan die skrywer sal wees. Die aard hiervan sal nog bekend gemaak word.