Perdryterapie help om kinders se selfvertroue te verbeter en verander hul persepsie oor hulself. Dit plaas hulle in ’n totale nuwe omgewing waar hulle kan vry wees van enige oordeel.
Daarom is dit volgens Wijbren Nell, wat sy honneursgraad in Sielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwerf het, die ideale terapie wanneer daar met kinders met gestremdhede gewerk word. Hy sê dit is ongelooflik om te sien hoe hulle ontwikkel.
Hy was deel van ’n groep honneursstudente in Sielkunde wat danksy ’n gemeenskapsprojek die Fakulteit Geesteswetenskappe se Diensleer-eerbewys vir die beste nagraadse studente ontvang het. Wijbren, Hershel Meyerowitz, Gerán Lordan, Melissa Taljaard, Simoné le Roux en Adriana de Vries se projek was in 2015 deel van hul module Gemeenskap- en Sosiale Sielkunde. Hulle is op 15 April 2016 by hul fakulteit se prysuitdeling vereer.
Doel van projek
“Ons doel met die projek was om vir die kinders te wys dat hulle, ten spyte van hul gestremdhede, steeds iets kan bereik,” sê Wijbren. Die studente werk weekliks met kinders van die grondslagfase van die Lettie Fouché-skool in Bloemfontein. Marie Olivier, wat ʼn lang verhouding met die UV het, se Equistria Terapeutiese Ontwikkelingstrust dien as basis vir die gemeenskapsprojek.
Perdry en terapie
Volgens Wijbren was die idee om die kinders se psigomotoriese funksie te stimuleer, asook om hul sielkundige welstand te verbeter. Hy meen navorsing wys perdry bevat ongelooflike terapeutiese waarde. In dié spesifieke geval het dit die kinders se selfvertroue verbeter, aangesien hulle dalk weens hul gestremdhede ’n swak selfbeeld het.
“Daar was ‘n meisie wat aan die begin van die jaar nie eers naby ’n perd wou kom nie, wat nog te sê op die perd klim. Ons het aanhou probeer en toe sy eers op die perd is, kon ons haar nie afkry nie. Dít was die ongelooflike ding van die projek,” sê Wijbren.
Eerbewys ’n verrassing
Hy meen dit was ’n voorreg en verrassing vir sy groep om die eerbewys te ontvang. Hy was ook vol lof vir dr Pravani Naidoo, ’n dosent in Sielkunde aan die UV, wat die koördineerder van die terapeutiese perdryprojek is. “Sy het ‘n ongelooflike passie vir hierdie projek en het ons uitgedaag om op ons voete te dink. Sy is werklik ‘n inspirasie.”