GEORG VAN ECK
Vrystaatse sportsterre, senior, junior en gestremde, is onlangs deur die Vrystaatse Media-vereniging asook deur die verskillende sportsoorte op hul jaarlikse prysuitdelings vereer, maar ’n juweel het so byna die kollig ontglip.
Heidemarie Edeling, ’n voortreflike perderuiter van Bainsvlei en Eunice Hoërskool in Bloemfontein, het op verskeie gebiede presteer. In so ’n mate dat haar nominasie as ’n nasionale sportster deur Saskok vir die beherende sportkomitee se jaarlikse Suid-Afrikaanse Sporttoekennings aanvaar is.
Die knap graad 8-leerling van Eunice het ook erkenning van die Vrystaatse premier, Ace Magashule, ontvang nadat sy die Suid-Afrikaanse nasionale perderuiter individuele en ope (freestyle) dresseer-kampioenskappe (dressage) gewen het.
Sy het vanjaar twee Suid-Afrikaanse titels op die Ponieruiter Nasionale Perdry Kampioenskappe van Suid-Afrika verower. Dit is die hoogste vlak waarin sy in Suid-Afrika kan deelneem. Sy het hierdie uitmuntende prestasie die derde agtereenvolgende jaar behaal – iets wat nog geen ander ruiter in Suid-Afrika kon vermag nie. Sy is die individuele en ope (freestyle) dresseer-kampioen van Suid-Afrika.
Sy kan weens die gevreesde Afrika-perdesiekte nie oorsee met haar eie perd deelneem nie.
Dit is net die oortjies van die seekoei, want die vriendelike blondekop is ’n voorslag-leerling wat akademies uitblink, aan swem deelneem en danspassies ewe flink en glad uitvoer.
In swem was sy lid van Eunice se Interhoërswemspan en het sy gekwalifiseer vir Vlak Twee in die Suid-Afrikaanse ouderdomsgroep-swemkampioenskappe.
Daarby het sy ook die bekende Midmar-Myl geswem en 65ste uit 1 348 swemmers in haar ouderdomsgroep geëindig.
In dans het die 14-jarige in Klopdans (Tap) die brons-seël van die Suid-Afrikaanse Dansonderwysersvereniging verwerf en in Hip-Hop het sy Vlak Twee van dié vereniging geslaag.
Sy stel dit egter duidelik dat perdry haar groot liefde en passie is.
Om ’n onderhoud met haar gereël te kry is nie maklik nie, want sy het ook tussen haar daaglike ruiteroefeninge en skoolbedrywighede, wat eksamen insluit, ook nog ’n noodhulpkursus, wat na-ure by die skool aangebied is, voltooi.
“Ek stel baie belang in mediese sake,” vertel sy oor haar noodhulpkursus. Dit is duidelik dat tersiêre mediese studies later in haar lewe nie uitgesluit is nie.
Perdry is egter die middelpunt van haar lewe en heel gepas woon sy saam met haar ouers op die bekende Bains Equestrian-park. Haar ouers, advv. Willem en Henli Edeling, ontvang jou gul, terwyl hul talentvolle dogter eers besig is om die honde op die Perdepark in beheer te kry. “Ek is bang hulle word raakgery,” verduidelik sy, terwyl van die perde ook nader staan om aandag te kry.
Behalwe die voordurende oefening waar sy ure op die rug van haar perde deurbring, kry sy maandeliks intensiewe onderrig van die Duitse afrigter, Armin Fritz, van Kaapstad.
Dié kenner rig dan ook ander ruiters van die Vrystaat en Bloemfontein af. Al die passie en deursettingsvermoë werp vrugte af want die afgelope jaar het sy talle streek en nasionale titels verwerf.
Die feit dat sy ook as Suid-Afrika se nommer een ponieruiter op die Suid-Afrikaanse dresseer-ranglys is span die kroon op haar nasionale prestasies.
“Die verskil tussen ’n ponieruiter en junior ruiter is dat ’n ponieruiter tussen 8 en 15 jaar oud is. ’n Junior ruiter is tussen 16 en 18 jaar oud, maar top-ponieruiters mag reeds as 13-jariges as junior ruiters meeding. Heidemarie ding as 14-jarige met groot sukses in albei afdelings mee,” verduidelik haar pa.
Op streekvlak (Vrystaat en Noord-Kaap) is sy die ponie (medium) en junior (gevorderde) kampioen in dresseer, maar ook in vertoonskou (showing) waar sy met talle titels spog.
Baie van haar maats maak ook van die geriewe van die Bains Equestrian-park gebruik. Van hulle kry ook afrigting van Heidemarie se Duitse afrigter.
Daar word gereeld perdeskoue soos die bekende, Hoefslag, op die landgoed van die Edelings aangebied. Daar is drie dresseer-arenas, groot perdespring- en skou-arena met al die geriewe wat vir sulke geleenthede nodig is. Dit sluit ook kwartiere vir die perdeversorgers (grooms) asook ’n perde-hotel en kombuis vir spyseniering en ’n meenthuis in.
In haar bedrywinge lewe kry sy groot ondersteuning van haar ouers en haar 11-jarige suster Runé, wat ook ’n knap ruiter is.