Pelonomi-personeel in hof dié week

0
488

CATHY DLODLO &
CHRISTAL-LIZE MULLER

Drie van die vier werknemers van die Pelonomi-hospitaal, wat verlede week in hegtenis geneem is in verband met ‘n klopjag waartydens beslag gelê is op duisende rande se hospitaaltoerusting in Bloemfontein het Dinsdag in die hof verskyn. Die vierde verdagte was siek en sou later verskyn. Dit kom nadat die polisie op gesteelde toerusting soos onder meer x-straalmasjiene, en skoonmaak- en kantoortoerusting ter waarde van sowat R450 000, vermoedelik van dié hospitaal by ‘n skrootmetaal-onderneming in Ooseinde beslag gelê het.

Volgens die Vrystaatse polisiekommissaris, Thabethe Mpembe, was die klopjag deel van verskeie ander polisieklopjagte op plaaslike skrootmetaal-ondernemings. Een van die werknemers is by die betrokke skrootmetaal-onderneming in hegtenis geneem, terwyl ‘n ander by sy huis vasgetrek is. Twee ander staatsamptenare is later in hegtenis geneem omdat hulle glo al vir ‘n geruime tyd die gesteelde toerusting aan dié betrokke skrootmetaalonderneming verkoop het.

Nog ‘n hospitaalwerknemer is in Pelonomi opgeneem nadat hy vermoedelik ‘n hartaanval gehad het toe polisie daar opgedaag het. Hy is later in hegtenis geneem. Mpembe beskou die inhegtenisnemings as ‘n deurbraak vir die polisie.
Intussen het die provinsiale LUR van gesondheid, Benny Malakoane se woordvoerder, Tebogo Oepeng, gesê die departement gaan ondersoek instel om uit te vind of die saak verband hou met ‘n interne ondersoek wat laat verlede jaar begin is. Die ondersoek is deur Vrystaatse premier Ace Magashule begin nadat noodsaaklike medisyne en mediese voorraad gevind is waar dit stof in ‘n pakhuis opgaar.

Dit was te midde van ‘n gesondheidskrisis waartydens medisyne- en mediesevoorraad-tekorte aan die orde van die dag was.
Oepeng het verder gesê die hysbakke by Pelonomi is al vir ‘n geruime tyd buite werking weens diefstal deur staatsamptenare by die hospitaal. Die departement vermoed dieselfde groep wat verlede Woensdag aangekeer is, is betrokke by die diefstal van krane by die hospitaal wat veroorsaak het dat water in die dak gelek het en die hysbakke se bedrading beskadig is.

Die veelbesproke Pelonomi-hospitaal is al vir ‘n geruime tyd in die spervuur oor swak dienslewering, voorraadtekorte en swak onderhoud van mediese toerusting. Die hospitaal is ook een van die drie swakste hospitale in Suid-Afrika nadat die Demokratiese Alliansie (DA) verskeie oorsigbesoeke aan nege staatshospitale oor die land heen uitgevoer het.
Die vierde verdagte is Dinsdagaand na Mediclinic Bloemfontein se ongevalle geneem vir noodbehandeling.
Hy sou naverwagting Woensdag in die hof verskyn het.

Teen druktyd was die storie nog besig om te ontvou. Lees meer op ons webtuiste www.bloemfonteincourant.co.za.

cathy@centralmediagroup.co.za
cmuller@centralmediagroup.co.za