Peacemaker-sanger besoek Rosestad

0
292
Albert Hammond FOTO: ALBERTHAMMOND.COM

Die man wat bekend is vir treffers soos The Peacemaker, The Free Electric Band en It never rains in Southern California, besoek eersdags die Rosestad.

Albert Hammond, wat in Gibraltar grootgeword het, is vir meer as 50 jaar reeds deel van die musiekbedryf. Hy was net 24 jaar oud toe die liedjie, Little Arrows, uitstekend gevaar het. Van daar af het hy talle briljante treffers aan sy bewonderaars gebied. Hy is nie verniet verantwoordelik vir 360 miljoen kopieë wêreldwyd en meer as dertig nommer 1-liedjies op die musiekranglys nie.

Sedert sy liedjie, It never rains in Southern California, het hy bekend geword as uitmuntende kunstenaar, liedjieskrywer en musiekvervaardiger in Engels sowel as Latyns-Amerikaans. In 2008 is hy by die Songwriters Hall of Fame ingehuldig. Hy het in dieselfde jaar die Orde van die Verenigde Koninkryk van Koningin Elizabeth II ontvang.
Internasionale kunstenaars wat van sy musiek gesing het, sluit groot name soos Celine Dion, Tina Turner, Elton John en Johnny Cash in.

Nadat hy besluit het om nie meer musiek op te neem of om te toer nie, hy hy musiek vir groot name soos Neil Diamond, Aretha Franklin en Joe Cocker vervaardig. Sy musiek word ook nie net oorsee waardeer en aangebied nie, maar plaaslike kunstenaars soos Eddie van Potch, Francois Bouwer en Daniel Wesley maak ook gereeld daarvan gebruik in hul vertonings.

Albert Hammond gaan vir ‘n week deur Suid-Afrika toer. Hy en sy vier stuk-orkes gaan jou deur die afgelope vyf dekades neem. Hy is op 8 Maart in die Kopanong Ouditorium (ou Kovsie Kerk) om 19:30 te sien. Kaartjies kos tussen R280 en R360 en is by Computicket beskikbaar. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za