Paulina wys in 10km-wedloop sy is gereed vir SA’s

0
2146
RUFUS BOTHA

Bloemfontein se voorste vrouelangafstandatleet, Paulina Njeya (Nedbank RC), blyk oorgehaal te wees om aanstaande Sondag (21 September) ‘n plek onder die voorste tien atlete los te hardloop by die Suid-Afrikaanse marathonkampioenskap (42,2 km) wat in Kaapstad beslis word.

Die 37-jarige Njeya het dit onderstreep by Bloemfontein Striders se Sweet-en-Eet-10km-padwedloop wat Saterdag in Bloemfontein aangebied is. Njeya het nie slegs haar mededingers uit die vroue-geledere na beginners laat lyk nie, sy het ook heelparty taai manne agterweë gelaat toe sy algeheel agste in die wedloop geëindig het.

Sy het die ope afdeling vir vroue in ‘n goeie binnelandse tyd van 36:26 gewen. Sy het die twee Kovsies, Maryna Swanepoel (tweede, 39:42) en Kesa Molotsane (41:47), onderskeidelik met bykans ‘n kilometer en meer verslaan.

Njeya het ná die wedloop aan Bloemfontein Courant gesê: “Ek is tevrede met my tyd en mik vir ‘n plek onder die top-10 by SA’s."
" Indien ek onder die voorste vyf eindig, sal dit ‘n bonus wees,” het sy bygevoeg.

Dumisane Hlaselo (Kovsies) het in die ope afdeling vir mans gewys dat sy winterprogram op goeie peil is vir die 2015-baanatletiekseisoen. Hierdie hoogs talentvolle langasem en Suid-Afrikaanse juniorrekordhouer in die 1500 m het Saterdag kat-en-muis met sy teenstaanders gespeel en in 30:49 gewen.

Hy is gevolg deur sy Kovsiespanmaat, Khothatso Mokone (31:08) en Chabeli Nyedimane (Nedbank Bloemfontein Achilles, 31:24.
Die 60-jarige Antony Nyabanyaba (BMAK) het gewys dat sy oorwinning in die 60 tot 70 jaar-ouderdomsgroep by vroeër vanjaar se Twee Oseane-ultramarathon (56 km) in Kaapstad geen gelukskoot was nie.

Hy het die einste afdeling Saterdag in ‘n haastige 41:50 beklink, slegs drie sekondes stadiger as die derde vroue-atleet (Molotsane).

Die ander wenners is:

Mans: 40 tot 49 jaar: Pule Molosi (Nedbank Bloemfontein Achilles, 36:59), 50 tot 59 jaar: Abram Ndhlebe (Motheo AC, 46:50), Juniors: Tiietso Mothata (Nedbank Bloemfontein Achilles, 37:56), Stap: Pieter Roux (SUT, 1:10:03).

Vroue:
40 tot 49 jaar: Nicoline van Zyl (Nedbank Bloemfontein Achilles, 46:16), 50 tot 59 jaar: Adéle Bosch (Bloemfontein Striders, 47:34), Stap: Miemie Kleingeld (Nedbank Bloemfontein Achilles, 1:05:14).