Passiespel ‘n uitdaging vir Silwer

0
2869
Jacobus SIlwer. FOTO: FLAMING FIRE PHOTOGRAPHY

Vanjaar word die vierde Passiespel aangebied en beloof om, nes die voriges, ‘n moet-sien-teaterstuk te wees.
Met Gertjan Holtzhausen wat die teks skryf, Niel van Niekerk aan die stuur as regisseur, Jaco Bezuidenhout as musikale regisseur, Michelle Hetzel as verhoogbestuurder en Jacobus Silwer in beheer van die musiek en lirieke, beloof Jesus – Die Passiespel, om ‘n meesterstuk te wees.
Jacobus Silwer is, soos vorige jare, weer by dié ongelooflike produksie betrokke. In die eerste Passiespel, Die Kruiskoning, geskryf deur Maretha Maartens, was Silwer deel van die akteurs en sangers (2015). Met die tweede Passiespel, Pilatus – ‘n kruis in die pad, geskryf deur Gertjan Holtzhausen (2016), het hy die rol van Petrus gespeel en ook gesing. In 2017, met die derde Passiespel, Judas – wat is die prys van bloedgeld? het Gertjan hom genader om die klankbaan en lirieke te skryf en het ook ‘n sangrol vertolk. Nou, met die vierde Passiespel, Jesus – Die Passiespel, skryf Silwer weer al die musiek en lirieke en Gertjan die teks, maar dié keer sal Silwer vir ‘n slag deel van die gehoor wees en lekker saamkyk.
Dit verg baie harde werk en verlede jaar het Silwer sowat 15 alleenstaande liedjies geskryf. “Hierdie jaar skryf ek in ‘n Griekse teater-styl waar een toneel se musiek bestaan uit gekombineerde stukke met verskeie melodieë en woorde wat eintlik as dialoog gesien kan word,” sê Silwer.
Die hoeveelheid liedjies is dan eintlik dubbel soveel en daar is ‘n gemeenskapskoor betrokke wat veroorsaak dat die skryfstyl ook dikwels binne een toneel moet verander van ‘n solo-toepassing na kooropset-heen-en-weer. “Dít is die grootste uitdaging sover!” meen Silwer.
Om so ‘n groot projek aan te pak, moet ‘n persoon prioritiseer en gefokus bly tot op die einde. Silwer skerts dat as dit nie vir sy vrou, Lizzy, was nie, sou hy dit nie gemaak het nie. “As mens nie kophou nie, kan die bal met ‘n mens weghol. My vrou het die vermoë om my kop kalm te hou en Gertjan se vrou, Leanne, staan ook bankvas agter hom,” sê Silwer.
Die vroue en die ander lede van die bestuurspan se ondersteuningsraamwerk hou eintlik maar die raam vas sodat dit nie inmekaartuimel nie en die twee manne is baie dankbaar vir hulle in hul lewe.
Silwer is mal oor die proses omdat dit hom persoonlik uitdaag om te skryf ondanks sy besige daaglikse lewe. Natuurlik is daar dan ook so nou en dan skrywersblok. “My skryfspier kry lekker oefening, al weet ek nie lekker waar dit sit nie,” spot hy.
“Ek geniet dit om saam met ander kunstenaars deel te wees van iets so groot soos hierdie. Ons doen dit alles vir Bloemfontein en vir die Here en dís ‘n voorreg!”
Pacofs en die ATKV-tak Gemeenskapsteater bied Jesus – die Passiespel op 23 en 24 Maart in die Sand du Plessis-teater aan. Kaartjies kos R80 of R95. Kaartjies te koop by Pacofs of bel gerus 051-447-7772.

JERETHA OOSTHUIZEN 
jeretha@mahareng.co.za