Passie vir kameelperde sorg vir baanbrekernavorsing

0
2787

MARICELLE BOTHA

Volgens die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur en Natuurlike Hulpbronne (IUBN) was daar in 1998 na raming meer as 140 000 kameelperde in Afrika. Vandag is daar minder as 80 000 kameelperde op die kontinent oor. Twee van die nege kameelperd-subspesies is reeds bedreig. Hierdie diere het al in sewe Afrikalande uitgesterf en van die mees bedreigde subspesie, die Wes-Afrika-kameelperd, is daar vandag minder as 250 oor.
Met die minimum bestaande navorsing is dit bykans onmoontlik om hierdie diere van uitsterwing te red, maar danksy die toewyding van twee plaaslike navorsers word alles in die stryd gewerp om die voortbestaan van hierdie diere te verseker.
Navorser Francois Deacon en sy kollega, prof. Nico Smit van die department vir vee-, wild- en weidingkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, het die afgelope paar jaar intensief navorsing oor kameelperde gedoen en hoop dat die inligting tot meer insig oor die bestaan van hierdie besonderse diere sal lei.
Deacon is tans besig met sy Ph.D.-studie oor die ruimtelike ekologie van die kameelperd in die Kalahari, wat die Suid-Afrika-Botswana-Namibië-grens insluit. Hy is betrokke by ses verskillende projekte waaronder ook projekte in die buiteland. Deacon se navorsing
behels onder meer die insameling van melk, hare, bloedmonsters en bosluise, asook die merk van die diere deur middel van ‘n GPS-kraag.
Al Deacon se navorsing is gebaseer op kameelperdkoeie. "Die koeie bepaal merendeels die sosiale gedrag en verspreiding van ‘n trop. So hulle sal bepaal hoeveel jong diere saam met hulle beweeg. Bulle is nomadies en beweeg tussen troppe. ‘n Bul se impak op die plantegroei is dus minder as ‘n koei s’n. Kameelperdkoeie is ook meer gehard as die bulle. Dit wil sê, die risiko vir die dier om seer te kry of selfs dood te gaan tydens die merkproses, is so ‘n bietjie kleiner."
In Suid-Afrika is daar op die oomblik tussen
22 00 en 33 000 kameelperde van ons subspesie. "Die Kaapse kameelperd is baie stabiel, dit is eintlik die enigste subspesie wat werklik in getalle toeneem. Dit is danksy goeie bestuur en ons verstaan van die natuur. Suid-Afrika is werklik die voorlopers van die kontinent as dit kom by hoe ons ons nasionale parke bestuur. Die res van Afrika verstaan nie dat ‘n mens jou hulpbron moet bestuur nie" sê Deacon.
Hy voeg by dat hoe meer navorsing hy doen, hoe meer besef hy hoe min ons regtig van hierdie dier weet en hoe baie werk daar nog op hierdie gebied is.
Deacon is ook die voorsitter van die derde internasionale kameelperd-indaba wat volgende jaar in Augustus by die Southern African Wildlife College in Hoedspruit gehou word. Sowat 25 verskillende lande sal verteenwoordigers na die kongres stuur.
Belangstellendes kan Deacon kontak by deaconf@ufs.ac.za.

Só lyk die getalle volgens IUBN in die wêreld

1. Afrika-olifant 500 000
2. Seekoei 125 000
3. Kameelperd 80 000
4. Masai-kameelperd 37 000
5. Leeu 32 000
6. Angolese kameelperd 20 000
7. Suid-Afrikaanse kameelperd 12 000
8. Cheetah 7 500
9. Swart renoster 4 880
10. Reticulated-kameelperd 4 700
11. Kordofan-kameelperd 3 000
12. Rothschild-kameelperd 1 100
13. Thornicroft-kameelperd 1 000
14. Berggorilla 880
15. Nubiese kameelperd 650
16. Wes-Afrika-kameelperd 300

maricelle@centralmediagroup.co.za