Passie vir die Vrystaat

0
654

ALZANE NARRAIN

“Mense is geneig om by Mosselbaai, George, of ander dele aan die kus te gaan vakansie hou. Met ons uitstalling, Vrystaat se dorpe, wil ons hê mense moet agterkom hoe wonderlik die Vrystaat is. Ons wil hê mense moet besef dat hulle nie die provinsie of ons land hoet te verlaat om ‘n avontuur te beleef nie.” So sê Bloemfonteinse fotograaf Jan van der Merwe.
Van der Merwe se romanse met die Vrystaatse platteland jare gelede begin toe hy vir die Nasionale Party gewerk het. ”Ek moes van dorp tot dorp ry om geld in te samel vir die party. Ek het interessante dinge op die dorpies gesien en wou meer weet oor hoe hulle onstaan het.”
Van der Merwe het vir agt jaar navorsing oor Vrystaatse dorpe gedoen waaruit ’n fotoboek ontstaan het.
Mede-fotograaf Philippe Burger sê hy en Van der Merwe en is sedert 2008 vriende en het besluit om voort te gaan met die boek. Dit het hulle agt maande en sowat 8 000km geneem om dokumentasie van 96 Vrystaatse plekke bymekaar te maak.
“Ek probeer van elke dorp ‘n interessante storie kry. Die eerste ding wat mense doen as hulle die boek koop, is om na hulle dorp te blaai. Net soos mense lees oor wat hul sterre voorspel, so doen mense oor hulle dorpe,” verduidelik Van der Merwe.
Hulle het 50 000 foto’s in hulle vrye tyd geneem, waaruit hulle 52 vir die Oliewenhuis-kunsmuseumuitstalling gekies het. Sodra die uitstalling eindig, moet die foto’s verpak word om in Junie in Gent, België, uitgestal te word. Dié uitnodiging is besonders aangesien Van der Merwe en Burger amateur-fotograwe is.
Van der Merwe is ’n doktor in antropologie en deeltydse lektor aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), en Burger ’n professor en hoof van die departement ekonomie aan die UV.
Die boek, Vrystaat se dorpe, was so gewild dat daar in Maart ‘n tweede druk van die boek op winkelrakke sal wees.
Van der Merwe en Burger se fokus skuif nou na die Noord-Kaapse provinsie en hy beplan om in Oktober ‘n fotoboek te publiseer oor die Noord-Kaap se dorpe en wil dieselfde doen met al die ander provinsies in Suid-Afrika.
Die uitstalling, Free State towns/Vrystaat se dorpe kan van 14 Februarie tot 23 Maart in die Oliewenhuis-anneks besigtig word.