Parkrun uiteindelik weer moontlik

0
603

Dis amptelik: Die parkrun is terug en Bloemfonteiners word genooi om die buitelug te kom geniet. Dit nadat die gewilde geleentheid, soos vele ander, verbied is tydens die inperkingstyd wat meegebring is deur die Covid-19- pandemie.

Die publiek kan nou weer deelneem en van die geleentheid gebruik maak om gesinne, vriende en kennisse bymekaar te bring vir samesyn terwyl die litte ook sommer losgemaak word.

Volgens Diane Vosloo, geleentheidsambassadeur van Parkrun Suid-AFrika, is die parkrun in wese ‘n gemeenskapsgeleentheid. “Terwyl die parkrun ons voortdurend aanmoedig om fisiek aktief te wees, is daar niks soos om ander mense te ontmoet, weer raak te loop en op te vang, vrywillige hulp aan te bied en ander aan te moedig nie.”

Vosloo sê die organiseerders van die parkrun hoop om die gemeenskap van Bloemfontein, vriende en gesinne weer bymekaar te bring.

Sy het ook aan Bloemfontein Courant gesê dat die geleentheid vir almal is, en om deel van die parkrunfamilie te word, baie maklik is. “Ons weet dat deelnemers aan die parkrun graag eerste keer-deelnemers aanmoedig. Dit is nou jou kans om kontak te maak en in die volgende weke te deel in die pret.”

Alle geleenthede is te siene by www.parkrun.co.za/events

Sazly Hartzenberg

sazly@mahareng.co.za