VANJAAR gaan die eerste keer ‘n parkeerfooi op kampus tydens Vryfees gehef word. Hierdie fooi van R20 per dag per voertuig gaan deur die Universiteit van die Vrystaat, ‘n feesvennoot, aangewend word om kunsprojekte in samewerking met die Vryfees te finansier.
Die prys is R20 per dag of R60 per feesweek (Dinsdag 15 Julie tot Saterdag 19 Julie). Geen parkeergeld word op Sondag 20 Julie gehef nie. Die bedrag word gehef per voertuig, en een toegangskaartjie geld die hele dag. ‘n Mens kan dus soveel keer in en uit soos verkies. Parkeerkaartjies kan vooraf by Computicket gekoop word.
Slegs feesgangers betaal die parkeerfooi, nie universiteitspersoneel en kampusgaste nie.
Personeellede en studente van die UV kan gratis toegang met hul kaarte ontvang. Alle diensverskaffers op kampus, asook kongresgangers en ander gaste van die Universiteit sal komplimentêre kaartjies ontvang vir die duur van die Vryfees.
Al vyf hekke van die Universiteit sal in gebruik wees tydens die fees: die hoofhek (Nelson Mandela-rylaan), Roosmaryn (Badenhorststraat), Medies (hoek van DF Malherberylaan en Wynand Moutonrylaan), Landbou (DF Malherberylaan) en die boonste hek naby Tempe (Fürstenburgstraat).
Gholfkarretjies sal feesgangers gemaklik vervoer tussen lokale en parkeerplekke.
Skakel Maritsa Barlow by 051-404-7947 of 076-285-8387 vir verdere inligting.