Paramedici weer in hof

0
607

'n Paramedikus van Netcare 911 in Bloemfontein wat verlede maand in hegtenis geneem is nadat die polisie by haar huis buite die stad beslag gelê het op gesteelde mediese voorraad, is later dié maand weer in die hof.
Dit kom nadat 'n saak van diefstal en die onwettige besit van eiendom teen Lelani Dry aanvanklik van die rol geskrap is nadat sy langer as 48 uur in aanhouding was voor haar eerste hofverskyning.
Haar regsverteenwoordiger, Adriaan van Rensburg, was van mening dat daar op haar grondwetlike reg inbreuk gemaak is deurdat die saak later as die voorgeskrewe 48 uur van aanhouding voor die hof gebring is. Die hof het saamgestem en sy is gevolglik vrygelaat.
Dry is in dieselfde week eers vir winkeldiefstal en toe vir die onwettige besit van gesteelde mediese voorraad in hegtenis geneem. Sy staar ook 'n klag van die besit van onwettige ammunisie in die gesig.
Sy verskyn weer op 22 September in die plaaslike landdroshof nadat sy Maandagoggend vlugtig voorgekom het. Nog 'n Netcare 911-paramedikus, André Louw, wat vroeër in verband met dieselfde aanklag in die hof verskyn het en op borgtog van R500 vrygelaat is, verskyn afsonderlik ook op 22 September in die hof. Hy word deur Nico Naudé verdedig.
Intussen het Netcare 911 aan Bloemfontein Courant bevestig dat Dry en Louw albei geskors is. – Chrsital-Lize Muller & Owen Kock
owen@centralmediagroup.co.za
cmuller@centralmediagroup.co.za