Pakslae: Is dit werklik goed vir my kind?

0
5906

LANI FOUCHÉ

Gee jy jou kind gereeld ’n goeie loesing? Hang daar ’n “Moeggepraat” of “Kryvirjou” agter jou kombuisdeur? Passop, hoewel jy suiwere intensies het, kan dit jou kind meer kwaad doen as goed.
Om ’n kind ’n pakslae te gee, is een van die tradisies wat van ons ouers en grootouers oorgeërf is – ons doen dit sonder om alternatiewe te oorweeg, want ons is mos self met die lat grootgemaak. Al meer ouers begin egter deesdae nie-aggressiewe maniere van dissipline toepas en daar word reeds baie navorsing hieroor gedoen.
Dr. Elize Groenewald, ’n kliniese sielkundige wat spesialiseer in gesinstrukture, meen die probleem met lyfstraf is dat ouers dikwels hul eie emosies van kwaad, woede en hulpeloosheid op hul kind uitslaan. “Die kind word eintlik net as ’n slaansak gebruik en só word die kind ’n slagoffer of self ’n boelie.” Sou die ouer dit regkry om die kind nou en dan ’n loesing te gee met ’n gevoel van vrede en kalmte, is dit meer aanvaarbaar, en kan selfs konstruktief en effektief wees. “Die kind word dus nie soseer ontstel deur die pak self nie, maar die emosies wat die ouer beleef wanneer hy of sy die pak toedien,” sê dr. Groenewald. Kinders kan selfs in skok gaan tydens ’n pak wat angsversteurings tot gevolg kan hê.
Ouers besef nie altyd dat ’n pakslae wat uit woede en aggressie op ’n kind toegedien word, ’n vernietigende emosionele impak op daardie kind kan hê nie. Dr. Groenewald sê: “Wanneer vrees vir kinders gekweek word is kinders bang om self keuses te maak en om verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar. Die kind is bang om te waag en nuwe geleenthede te ondersoek. Die gevolg is dat die kind opgee en die verantwoordelikheid vir sy ouer gee om sy lewe te bestuur.” Dit is soos wat die 20-jarige jong man vir haar gesê het: “Ek voel versmoor en vasgevang by my ouers, maar ek is te bang om buite die grense van my ouerhuis te gaan. Dit het my veilige tronk geword!”
Die profiel van ’n tipiese ouer wat pakslae as ’n vinnige uitweg gebruik, is oor die jare heen deur verskeie sielkundiges ontleed. Dr. Groenewald sê só ’n ouer het gewoonlik ’n swak selfbeeld, is nie simpatiek nie, het onrealistiese verwagtinge van kinders, het self nie as kind genoeg liefde en vertroeteling ontvang nie en voel maklik verwerp.
Die lyn tussen lyfstraf en ouers wat hul kinders boelie is fyn. Wanneer ouers hul kinders boelie, kan die kind homself en die ouer haat en die kind begin planne maak om die ouer op ’n manier terug te kry. “Kinders kan selfs fantaseer wat hulle met hulle ouers sal doen wanneer hulle ook eendag groot, sterk en magtig is. Dit is soos die nege-jarige seuntjie wat vir my sê dat hy eendag so sterk soos ’n duiwel sal wees om sy pa se kop te vergruis. Kinders voel swak teenoor hulle ouers en wend hul baie kere na satanisme om vinniger sterker te kan word om beheer oor ’n outokratiese ouer te kry,” sê dr. Groenewald. Die kind kan ook aanleer dat sy liggaam nie waarde het om gerespekteer te word nie, en dat hulle as persoon nie goed genoeg is nie. “Dit is vir enige persoon ’n vernedering om geslaan te word.”
Positiewe dissipline is dus meer konstruktief, sê dr. Groenewald. Die ouer moet grense aan die kind stel vir aanvaarbare gedrag. “Die boodskap wat ouers met positiewe dissiplinering aan die kind gee is dat: ‘Ek gee vir jou om en wil met die grense en keuse vir jou leer om jou eie gedrag te bestuur en in beheer van jou lewe te bly.’”
Het jy reeds jou humeur verloor en jou kind uit woede geslaan? Jy kan dit regmaak, sê dr. Groenewald. “Sê vir jou kind jammer, maar moet dit nie uit ’n slagoffer-rol met skuldgevoelens doen nie. Die kind leer hierdeur manupileer. Sê jy’s jammer, maar sê vir jou kind dat julle ’n plan moet maak sodat die onaanvaarbare gedrag nie weer sal gebeur nie.”