CHRISTOPHER MOTABOGI
’n Hooggeplaaste Vrystaatse verkeersamptenaar beskryf die R57-hoofpad wat Qwaqwa in die Oos-Vrystaat met Gauteng, Lesotho en KwaZulu-Natal verbind en deur die dorpie Reitz beweeg, as een van Suid-Afrika se gevaarlikste paaie. Die amptenaar, Frikkie Grobbelaar, wat ook die hoof van verkeer op Reitz is, het Vrydag vir die 15de agtereenvolgende jaar aan die Kom-veilig-daar of Arrive Alive-veldtog, in samewerking met ander rolspelers deelgeneem. Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, provinsiale verkeersbeamptes, nooddienste en plaaslike rolspelers het weereens vroegoggend met die veldtog begin en voertuie, insluitend taxis en vragmotors, gestop om vas te stel of hulle padwaardig is. “In die algemeen is die mense se houding teenoor ons terwyl ons hierdie projek hou baie, baie goed. Hulle waardeer eintlik ons verwantwoordelikheid hier. Ons laat hulle stop, ons gee hulle voedsel om te eet, koeldrank om te drink en ons laat hulle rus,” sê Grobbelaar. Met die loodsing van die veldtog is daar reeds vroeg 47 boetes met ’n gesamentlike waarde van R15 000 opgelê vir oortredings soos bestuur sonder ’n lisensie, foutiewe voertuie en oorlading van passasiers. Intussen, het die Padveligheidagentskap die afgelope naweek as die tweede van vyf kritiese naweke waartydens die land se meeste ongelukke voorkom. Verkeersbeamptes het ook die publiek gevra vir geduld op die pad aangesien nog reën vir die Vrystaat voorspel word, wat tot nat paaie sal lei en die moontlikheid vir padongelukke verhoog.