Padprojek-onmin eis derde slagoffer

0
462
‘n Skietvoorval weens wrywing oor ‘n omstrede padprojek in Bloemfontein het ‘n derde slagoffer geëis.

Die Departement van Gesondheid se woordvoerder, Mondli Mvambi, het bevestig dat Godfrey Mbalula, wat met ‘n skietwond in die kop in die Pelonomi-hospitaal opgeneem is, gisteraand oorlede is. Dit volg nadat twee lyke Sondagoggend in die Caleb Motshabi-woonbuurt in Bloemfontein gevind is ná dieselfde skietvoorval. ‘n Gewonde Mbalula is van dié toneel na die hospitaal geneem.

Een van die slagoffers wat terregestel is, is geïdentifiseer as Molokwane Mkgoro, ‘n DA-takvoorsitter. Min besonderhede oor die ander oorledene is bekend.

Volgens nuwe inligting aan OFM-nuus was daar ‘n gemeenskapsvergadering in die gebied, waar die gemeenskapslede die werkgeleenthede bespreek het. ‘n Onderonsie tussen inwoners en werkers, wat reeds by die projek betrokke is, het uitgebreek. Daar word beweer dat die moorde vermoedelik polities gedrewe was.

Die vergadering moes noodgedwonge verdaag toe die onderonsie uitgebreek het. Inwoners was veral ongelukkig omdat van die werkers wat wel by die multi-miljoenrandse projek aangestel is, glo nie van die omgewing is nie. Mkgoro het glo tydens die vergadering sy teenkanting uitgespreek en kapsie gemaak omdat inwoners van Dinaweng nie by die projek werk aangebied is nie. Eddie Rasoeu van die DA beweer dat dié projek voor die 2019-verkiesing begin het en dat aanstellings onlangs gemaak is.

OFM-nuus/Elsabé Richard