Die brand wat vanoggend in die Pacofs-gebou se kelder in Bloemfontein uitgebreek het, is ‘n ruk gelede geblus. ‘n Brand het kort ná 07:00 in ‘n kamer waarin groot industriële batterye gestoor word, uitgebreek. Die Mangaung Brandweer- en Reddingsdienste se Braam van Zyl sê die oorblyfsels van die gebrande batterye moet nou eers geïsoleer en daarna uit die batterykamer deur ‘n onafhanklike maatskappy verwyder word. Volgens hom kan die verbrande toerusting nie op ‘n stortingsterrein gelaat word nie. Dié reuse- batterye word tydens kragonderbrekings gebruik om elektriese lig te verskaf. Van Zyl sê ’n uitgebreide proses gaan nou volg.
As die verbrande batterye verwyder is, moet die lug gesuiwer word, omdat daar giftige stowwe is. Die gebou moet ook geventileer word en moet daarna deur gesondheidswerkers veilig verklaar word. ‘n Finale besluit kan eers daarna deur die Departement van Openbare Werke rakende toegang geneem word.
Van Zyl sê die oorsaak van die brand is steeds onbekend.
Hy beskryf die brand as “sensitief”, omdat die water wat gebruik is om die vlamme te blus moontlik ‘n kortsluiting kon veroorsaak. Die brandweer is bygestaan deur lede van die Mangaung-metro se elektrisiteitsafdeling. Betrokkenes se taak om die brand te blus is verder bemoeilik deur die kelder wat donker en vol digte- rook was.
Die Pacofs-gebou asook die nabygeleë Fidel Castro-gebou is vanoggend ontruim en omliggende strate is vir verkeer gesluit. Openbare Werke woordvoerder, Mlungisi Maqubela, het vroeër aan Courant gesê niemand is in die brand beseer nie. Hy het bevestig dat albei geboue vir die dag ontruim is weens die gevaar wat giftige gasse inhou. – Christal-Liza Muller