Pace slaan as gunsteling af

0
517

GEORG VAN ECK

Lee-Anne Pace se eerste gholfsege in die Europese Reeks vir vroue sedert sy vyf titels in 2010 verower het, het die soeklig weer op Suid-Afrika se vrouespelers geplaas. Die 32-jarige Pace het verlede week haar sesde titel in die Europese Reeks gebuit toe sy Charley Hull van Engeland en Carlotta Ciganda van Spanje met twee houe in die Turkse Vroue Ope op die Nasionale Gholfklub se baan in Belek, Antalya, geklop het.

In 2010 het Pace ook eerste op die Verdienstelys vir vroue in die Europese Reeks geëindig. Met haar vyf titels – die Deutsche Bank-toernooi, Switserse Ope, S4C Walliese Kampioenskap-toernooi, die Finse Meesters in Helsinki, Sanya Vroue Ope en die Suzhau Taihu Vroue Ope in China het sy in 2010 meer as R4 miljoen aan prysgeld verdien. Sedertdien was sy segeloos tot die Turkse Ope verlede week. Nogtans het sy vanjaar gereeld onder die voorlopers geëindig en was voor die Turkse Ope vyfde op die 2013 Verdienstelys met prysgeld van sowat R2.5 miljoen.

Pace slaan ná haar sege in Turkye Vrydag as een van die gunstelinge in die Deloitte Vroue Ope in Amsterdam af waar sy weer teen die Spanjaard Carlotta Cinganda te staan sal kom. Cinganda verdedig haar titel in dié toernooi. Pace is egter nie enigste Suid-Afrikaanse vrou wat in die Europese Reeks speel nie. In Amsterdam het nie minder nie as agt van haar landgenote toelating tot die toernooi gekry. Volgens die lys van 173 spelers sal Asleigh Simon, Stacy Bregman, Tandi Cuningham, Connie Chen, Laurette Maritz, Morgana Robbertze, Melissa Eaton en Monique Smit ook Suid-Afrika se naam help hoog hou in die Deloitte Vroue Ope.