Die afgelope Paasnaweek was vir baie gesinne in Bloemfontein iets heel anders as die gewone. Die inperking het vir baie mense reeds “die nuwe normale leefwyse” geword. Van aanlynkerkdienste tot Paaseierjagte tuis is deur baie mense op sosiale media gedeel. Bloemfontein Courant het met ‘n paar gesinne in Bloemfontein gesels oor hoe hulle Paasfees ervaar het.
Niel du Plessis, ‘n pa van drie, het gesê dat hulle in die onsekere tyd bevoorreg is om saam as ‘n familie te kon wees. “Ons het die Paasnaweek geknip, geplak, gespeel en flieks gekyk, maar tog nie die ware betekenis van Paasnaweek vergeet nie.”

Danie Crouse en sy gesin het die tyd op tradisionele wyse deurgebring. Sy kinders Paaseiers het gesoek het en hulle kon ‘n heerlike gesinsete saam geniet. Die tyd is gebruik om mekaar te waardeer en terselfdertyd die ware betekenis van Paasfees te herdenk.

Luvey Potgieter en haar gesin het die herdenking aan wat die Hemelse Vader vir die mensdom gedoen het, gevier. Sy glo dit is belangrik dat ‘n mens altyd sal onthou waaroor Paasfees eintlik gaan. Sy en haar gesin het ‘n egte Paasmaaltyd voorberei en geniet en die kinders het die plesier gehad om Paaseiers te soek.

Nog ‘n gesin wat moes aanpas by die “nuwe normaal” is Tatum Macalagh se familie wat ‘n Paaseierjag gehad het en hul tradisionele Paaskos kon geniet, wat kerrievis en ‘n soet tert vir nagereg ingesluit het. Macalagh vertel dat hierdie ook ‘n tyd is om te onthou wat die Here vir ons gedoen het toe Hy vir ons sondes gesterf het.

Verskeie kerke het die aanlynroete gekies om die boodskap van Paasfees oor te dra. Baie mense het op sosiale media gedeel hoe hulle die naweek ervaar het en hoedat die betekenis van Paasfees in ‘n tyd van aanpassing steeds hoop gebring het.
Heidre Malgas
heidre@mahareng.co.za