Pa voor stok gekry oor kierie

0
378
Senior man walking in a forest. Photo: Uplifting Mobility

Ons het altyd kieries in ons huis gehad. My pa was ’n ywerige versamelaar. Hy het sy magdom kieries met groot trots uitgestal in ’n houer in ons voorportaal.

Ek het onlangs eers, toe ek begin oplees hieroor, besef hoe ’n roemryke geskiedenis die nederige kierie het. Wandelstokke dateer terug na die vroegste tye. Wie onthou nie die prentjie van Moses in die Kinderbybel wat met sy kierie die Rooisee oopslaan nie?

Die staf van die Bybelse herder by sy skape was ewe bekend. En dan ook die Egiptenare en die farao’s. In die graftombe van Toetankamen is daar meer as ’n honderd kieries gevind.

In die Middeleeue was die kierie ’n belangrike statussimbool. ’n Edelman sou selde sonder sy peperduur wandelstaf, ryklik versier met goud, silwer en edelstene, gesien word. Kieries is in die 18de en 19de eeu ook dikwels gebruik as houers, met allerhande items wat in die lang steel gebêre of weggesteek is.

Dokters se kieries sou soos ’n mediese tas gebruik word om allerhande medisynes en instrumente in te dra. “Wapenkieries” was ook van vroeg af bekend. ’n Mens kry steeds ’n verskeidenheid swaardkieries, waar ’n vlymskerp lem in die steel, wat as skede dien, weggesteek word.

Pa se kieries was veel eenvoudiger. Hy was veral lief vir handgemaakte houtkieries, waarvan hy ’n verskeidenheid langs die Natalse Suidkus gekoop het tydens ons karavaanvakansies daar. Om die een of ander rede, soos ek dit onthou, was die informele kieriebedryf onwettig. Dalk het dit met beskermde boomspesies te make gehad.

Ek onthou goed hoedat Pa een keer met ’n kierie wat hy wou koop, in sy hande gestaan het toe Natuurbewaring se manne daar aangejaag kom. Die kierieverkoper het die bosse in gevlug. Pa het, nadat die beamptes weg was, geld vir ’n ander man wat daar gestaan het, gegee om vir die kierieverkoper te laat kry.

Al hierdie herinneringe kom terug toe ek onlangs (hopelik wettig) die mooiste kierie by ’n Xhosa-kieriemaker langs die strand op Cintsa koop. Pa se kosbare versameling, wat na sy dood myne geword het, sal bly groei.

Albé Grobelaar