Ouma se skinkbord uiteindelik weer terug

0
497
Rooi Vingerhoed se gelukbringer, Ouma, met haar nuwe skinkbord. FOTO: VERSKAF

Baie Bloemfonteiners ken dalk die Rooi Vingerhoed se gelukbringer, Ouma, wat met haar skinkbord in die Bloem Plaza staan.Die skinkbord was vir meer as vyf jaar verlore en is uiteindelik terugbesorg.

Volgens Chief Leeuw van die Chief Leeuw Foundation, wat aan die spits was van die soektog na die skinkbord, is ’n Facebook-kompetisie aangekondig op soek na die skinkbord en die versoek was vir kopers om aan Bloem Plaza te sê waar hulle dink hulle Ouma se skinkbord kan kry.

Leeuw het gesê die wenner van die kompetisie sal ’n inkopiebewys van R4500 vir die liefdadigheidsorganisasie van hul keuse wen.

“Danksy Siyamthanda Gxabhu se Facebook-voorstel (Miss Pure Sparkle SA Queen) oor waar Ouma se skinkbord kan wees, was Emzini Old Age Palace die ontvangers van die R4500-inkopiebewys. Die oorhandiging is by die winkelsentrums se uitstallingshowe gedoen, waar kopers bymekaargekom het om die oorhandiging te aanskou.

Die Chief Leeuw Foundation het die skinkbord met die hand laat maak en dit het geblyk die perfekte pasmaat vir ons liewe Ouma te wees,” het Leeuw gesê. Hy het bygevoeg dat Rooi Vingerhoed 50 kolwyntjies aan die Purpose Driven Queens uitgedeel het, en hierdie week gaan hulle ’n pasgemaakte groot koek aan Emzini Old Age Palace oorhandig.

“Ouma staan vanjaar al vir 28 jaar by Rooi Vingerhoed en dit is deel van ons winkelsentrum se nalatenskap.”

Die amptelike oorhandiging het op Vrydag 5 April by Bloem Plaza plaasgevind.

Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za