Ouma Ossewania besoek haar geliefde Rosestad

0
131
Ouma Ossewania en haar dogter, Evita Bezuidenhout FOTO: STEFAN HURTER

Pieter-Dirk Uys, 2017-Hertzogprys-wenner vir drama, bring ‘n dramatiese ou tannie na die Vrystaat Kunstefees.

Ouma Ossewania Kakebenia Poggenpoel was 20 jaar gelede in Bloemfontein, die stad so na haar hart.

Gebore tydens die Boereoorlog op die vooraand van ‘n nuwe eeu, was Bloemfontein altyd vir haar soos New York, die Groot Appel, of die Groot Suurlemoen in haar lewe. Sy het in Bethlehem gewoon met haar twee dogters Evangelie en Baby. ‘n Kuiertjie in Bloemfontein was altyd die okkasie van die jaar.

Nou is Ouma weer terug by haar geliefde Vrouemonument met haar lewensverhaal, maar dié keer as gas van die Vrystaat Kunstefees.

Die toneelstuk, Ouma Ossewania Praat Vuil, kom uit die hart van ‘n 119-jarige volksmoeder, oud ‘maar nog niet koud’. Sy kyk terug oor haar lewe, haar suksesse, haar tragedies en haar familie. Alles wat dikwels ook deel is van die droomwêreld van Afrikanerdom.

Sommige mense is ontsteld, want hulle het gehoor Ouma vloek. Nooit! Sy ken te veel dominees. Sy is ‘n goeie Afrikaner met respek vir Land, Volk en Taal. Sy sal nooit vloek as sy praat nie – net as sy dink – soos in hierdie monoloog van liefde, lus, lis en lag.
Met haar bekende dogter, Evita Bezuidenhout, altyd ‘n trappie agter haar, sal Ouma haar gehoor op menigte Groot Trekke lei, deur die dorings, dale, druiweboorde en dorre vlaktes van onthou.

Vir dié wat ongemaklik is met sekere woorde in haar taal is daar ‘n bloutaal-waarskuwing. Ouma Ossewania Praat Vuil is nog vandag om 10:00 en 17:00 in die Wessels-ouditorium op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat te sien.
info@bloemfonteincourant.co.za