Ouma Alida kry virtuele galery op 89

0
2155
Ouma Alida Smit, wat op 89 ’n virtuele galery kry

Bloemfonteinse inwoner, Alida Smit (89), glo dat ouderdom nie mense se kreatiwiteit beïnvloed nie. Volgens haar is dit juis die tyd om rustig te wees en te doen waarvoor jy lief is. Haar kleinkinders het aan die begin van die jaar vir hul kreatiewe ouma ’n kunsuitstalling gereël om blootstelling te gee aan haar wonderlike talent, maar met die pandemie was dit nie meer moontlik nie.

Volgens ’n kleinkind, Maryke Hewett, moes hulle toe na ander maniere kyk om dit steeds te laat gebeur, dus is besluit op ’n virtuele galery. Hewett het aan Bloemfontein Courant verduidelik dat hulle vandag (Donderdag, 7 Mei 2020) Smit se virtuele uitstalling vir die familie open deur middel van Zoom – asook die “gedeeldeskerm-opsie” van die virtuele uitstalling.

Volgens haar behels die uitstalling 20 van Smit se werke en sal dit vir ’n maand op die internet te siene wees, waar mense dan virtueel daardeur kan toer. Smit het verduidelik dat kleure, teksture en verskillende mediums haar geïnteresseer het vandat sy kan onthou, en wou sy nog altyd dié tegnieke baasraak.

“Vandat my kinders begin skoolgaan het, het ek op al hul oorgetrekte boeke gepaste prente geverf. Die resultate het gemaak dat ek meer formeel begin verf het.” Die alleenstilte en om te sien hoedat dit waarmee sy besig was, vorm aanneem, het vir haar groot bevrediging gebring. Veral dít wat vir haar op ’n spesifi eke oomblik treff end is en wat sy graag wil onthou, “spook by my totdat ek dit op my manier kan vaslê deur middel van waterverf,” sê sy. Vir Smit is kreatiewe naald-, brei-, en hekelwerk daaglikse aktiwiteite.

Elke oggend as sy opstaan, weet sy wat haar passie vir die dag gaan wees: waterverf, lees, naaldwerk, hekelwerk, of sommer net om blokkiesraaisels te voltooi. “Met 4 dogters, 2 seuns en 17 kleinkinders is dit voorwaar elke dag vir my ’n avontuur om van elkeen se doen en later in verskillende lande te hoor. Glo my, dit is voorwaar ’n kuur teen gou oudword, en die interessanthede van elke dag hou die skete en kwale weg,” sê Smit. Besoekers kan enige tyd die uitstalling besoek by die volgende skakel: https:// www.3dvas.com/galleries/.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za