Ouetehuis se probleme ‘langer as Psalm 119’

0
852
Basil Botha (66), wat al meer as 12 jaar 'n inwoner is van Reënboog-outehuis in Heidedal. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Bykans ‘n jaar gelede het Bloemfontein Courant berig oor die verskriklike lewensomstandighede waarin die inwoners van die Reënboog-ouetehuis in Heidedal leef, en steeds is daar nog niks daaromtrent gedoen nie.
Basil Botha, een van die inwoners wat meer as 12 jaar daar woon, het aan Bloemfontein Courant gesê die lys van probleme by die ouetehuis is langer as Psalm 119. Hy het verduidelik dat die geboue seker meer as 20 jaar oud is en niks oor die jare aan die infrastruktuur gedoen is nie.

“Soos ek nou hier staan, is die toilette verstop en is daar geen water in die krane nie, al het dit so gereën,” sê Botha. Hy vertel ook dat 80% van die inwoners kinders is, al is dit ‘n ouetehuis.

“Ons het almal ‘n besluit geneem om nie meer ons huur te betaal nie aangesien ons betaal, maar steeds geen dienste kry nie.”Volgens hom is daar ‘n komitee wat die ouetehuis bestuur, maar dit het nie eens ‘n voorsitter nie. Hy het al van sy eie geld moes gebruik om goedjies by die ouetehuis reg te maak – en dit uit die klein pension wat hy kry.

“Die eenhede waarin ons bly, val uitmekaar. Ons het al talle kere gebel sodat iemand ons net kan kom help, maar niemand kom uit nie,” sê hy. Hy vertel verder dat hy nou sit met ‘n brief wat sê sy kontrak met die Bloemfontein-munisipaliteit gaan nie hernu word nie. Hy het al met die behuisingsbestuurder gepraat en gesê dat dié hom maar moet kom uitgooi, en hy wag nou al vier maande op sy reaksie.

Bloemfontein Courant het verskeie versoeke om kommentaar aan Qondile Khedama, Hoofbestuurder: Kommunikasie, by die Mangaung- metro-munisipaliteit, gerig, maar geen kommentaar ontvang ten tyde van die ter perse gaan van Courant nie.

SAZLY HARTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za