Ouer raakgery voor Willem Postma

0
3474
Die plek waar 'n ouer vanoggend voor die Laerskool Willem Postma raakgery is. FOTO: SAZLY HARTZENBERG

Ouers van kinders wat by die gewilde Laerskool Willem Postma skoolgaan, is bekommerd oor hul kinders se veiligheid wanneer hulle die straat voor die skool moet oorsteek.
Dit kom nadat ‘n ouer, Jaco Van de Wall, hier raakgery is terwyl hy vanoggend sy kinders by die skool afgelaai het.
‘n Ooggetuie het aan Bloemfontein Courant gesê toe sy daar aangekom, was die paramedici reeds op die toneel. Van de Wall het glo erge beserings opgedoen en is toe hospitaal toe geneem. Die ooggetuie sê sy is vandag ‘n bekommerde ouer omdat sy ook ‘n dogter het wat daar skoolgaan.
‘’Mense ry vinnig in daardie area, terwyl ander mense op hul selfone besig is en nie kyk waar hulle ry nie. Die skool doen wat hy kan, maar bestuurders moet begin besef dat daar ‘n voetoorgang is en dat daar kinders met hul ouers loop.’’
Ongeveer ‘n week gelede het die skool groot verkeerskeëls voor die skool aangebring om die aandag op die voetoorgang te vestig, juis omdat mense so vinnig ry in die area.
Die skoolhoof, Jaco Kotze, het gesê dat hierdie ongelukkige voorval ‘n bewys aan die munisipaliteit moet wees dat hulle spoedhobbels voor skool benodig.
‘n Ouer wat anoniem wil bly, sê sy hoop hierde voorval maak dat ander mense meer versigtig daar ry. Nog ‘n ouer sê die probleem is dat die parkeerarea te klein is, en mense stop net waar hulle wil. – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za