Ouer persone staan op vir geregtigheid

0
772

MARICELLE BOTHA

Na ‘n openbare protes in 2000, het die minister van maatskaplike ontwikkeling opdrag gegee dat ‘n ondersoek na die misbruik, verwaarlosing en mishandeling van ouer persone van stapel gestuur word. Openbare verhore is in al die provinsies gehou en ouer persone het vertel van die mishandeling wat hulle aan die hand van hul gesinne, gemeenskappe en regeringsamptenare moes verduur. In ‘n verslag, getiteld "Moeders en vaders van die nasie, die vergete mense", wat in 2003 gepubliseer is, word ‘n beroep gedoen om die belange van ouer persone ‘n prioriteit te maak en die kwaliteit van hul lewens te verbeter.

In 2005 is die Suid-Afrikaanse Forum vir Ouer Persone (SAOPF) op die been gebring. Sedert sy ontstaan het die SAOPF hom as ‘n wettige entiteit gevestig, ‘n kantoor gestig en ‘n koördineerder in diens geneem. Talle organisasies en individue (insluitend ouer persone), van alle sektore op die gebied van veroudering is as lede gewerf in ‘n poging om die stem van ouer persone in Suid-Afrika te verenig. Die SAOPF, in samewerking met ouer persone, is instrumenteel in die opstel van die Handves van Ouer Persone. In baie provinsies is provinsiale forums gestig en skakel hulle op gereelde basis met die SAOPF. Die SAOPF is ook betrokke by die nasionale regering as dit kom by die bespreking van ‘n verskeidenheid van kwessies wat ouer persone raak.
Die Bloemfonteinse Forum vir Ouer Persone (BOPF) het pas weer ‘n ‘tweede lewe’ gekry en Sylvia Crooney, tesourier van die provinsiale forum, meen daar is geen rede hoekom ouer persone moet stilby as dit met hulle swaar gaan nie.

"Hoewel die forum deur die departement van maatskaplike ontwikkeling ondersteun word is dit glad nie polities geaffilieer nie en het dit volkome ten doel om ouer persone se belange op die hart te dra. Indien jy slegte diens kry, kom praat met ons daaroor – daar is ‘n wet wat ouer persone beskerm en ons hoef nie alles net te anvaar nie," sê Crooney.

Sy meen ouer persone het vir heeltemal te lank stilgebly en toegelaat dat hulle soms deur die jonger garde geboelie word. By die forum word saam oor uitdagings gesels en gekyk hoe oplossings gevind kan word. "Ons hoop om mettertyd genoeg lede te hê om spesiale pakkette te beding vir verbruikers." Een van die eerste dinge wat volgens Crooney nou aandag moet geniet is die instelling van spesiale kassieres by kruidenierswinkels wat spesifiek na ouer persone omsien. Die BOPF sal ook binnkort ‘n kantoor open waar persone vir hulp kan gaan aanklop.

Op 21 Julie om 9:00 sal die BOPF ook deelneem aan die provinsie se parlementêre sitting vir ouer persone waar daar met premier Ace Magashule en sy kabinet beraadslag sal word oor die behoeftes van ouer persone in die Rosestad.
"Enige persoon kan ‘n lid van die forum word. Dit kos maar R20 per persoon per jaar en indien groepe aansluit kos dit maar R200 per jaar vir die hele groep. Ons nooi Bloemfonteiners om betrokke te raak," sluit Crooney af.
Vir meer inligting kan Crooney by 082-705-0046 gekontak word.

maricelle@centralmediagroup.co.za