Ouderdom nie vir sissies

0
511

Ouderdom is nie speletjies nie! Dis ‘n uitdrukking wat ek al hoe meer gebruik. Aanvanklik was dit net ‘n grappie.
Ek onthou hoe ek, nadat ek destyds by die halfeeu-merk verby is, gereeld vir my jonger pêlle sou sê: “Jy sal sien as jy eers vyftig is…”
Een van die baie mankemente wat nadersluip soos die jare aanstap, (dis nou náás die nuwe pyne elke oggend en die handevol pille voor brêkvis), is die tanende visie. Die sig. Min van ons aardlinge, lyk dit my, haal die eindpunt sonder om die een of ander tyd daardie onafwendbare brilhuisie in die binnesak te begin saamdra.
Op ‘n afstand, ver weg, kyk ek nog ‘n bars, al moet ek my oorgeërfde Grobbelaar-skrefiesoë verder toeknyp om beter te kan sien, my kind. Dis hier reg voor my waar ek hulp nodig het. Sonder ‘n bril is ek hulpeloos.
‘n Mens kan ‘n verhandeling skryf oor die veelbesproke leesbril. As jy nie self bril dra nie, is jy skaars bewus van hierdie ander wêreld reg onder jou oë. Ek was verstom oor die magdom “modelle” op die mark toe ek my eerste bril moes aanskaf. En die pryse! Die brilbedryf is ‘n multi-miljarddollar-industrie.
My vrou het my eerste “getoetste” bril persoonlik uitgekies. Dit sou, na alles, sy wees wat die Nuwe Ek van anderkant die glasgordyn moes aanskou. “Tortoise-shell” was die beskrywing van die dunraam-dingetjie, êrens tussen Franklin D. Roosevelt en Stephen Hawking. My eie keuse was nader aan Buddy Holly, met dalk so ietsie van Harry Potter bygegooi vir geluk.
Deesdae het ek elf leesbrille. Ek weet my uitrustings inspireer gereeld nuwe tendense in die internasionale modebedryf, maar my brille het niks met my beeld as mode-ikoon te make nie. Dis sommer goedkoop apteek-brilletjies.
Daar’s ‘n bril in elke vertrek in die huis, en dan nog twee in die kar ook. Die rede is doodeenvoudig: Ek is moeg om heeldag te loop en soek na die goed.
Ouderdom is nie speletjies nie. Jy sal sien as jy eers sestig is.

ALBÉ GROBBELAAR