Oud-Vrystaater Steyn verpleter SA maraton rekord

0
136
Die oud-Kovsie, Gerda Steyn, tydens die Comrades Marathon. FOTO: SVEN MUSICA

Die oud-Vrystater van Bothaville, Gerda Steyn, het die 25 jaar oue Suid-Afrikaanse marathonrekord gebreek tydens haar deelname in Italië.

Die oud-Kovsie het die nuwe maatstaf op 2:25:28 gestel toe sy negende geëindig het in die Sienna Tuscany Camp-marathon in Italië.

Steyn, wat ook die huidige Comrades Marathon-kampioen is, het die rekord van Colleen de Reuck, wat in 1996 opgestel is op 2:26:35, verbeter.

Irvette van Zyl het 13de geëindig in 2:28:40 om die 13de Suid-Afrikaanse atleet te word wat ‘n kwalifiserende standaard vir die Olimpiese Spele in Tokio behaal het.
Steyn was verheug oor haar nuwe Suid-Afrikaanse rekord, veral nadat sy verlede jaar die rekord misgeloop het.

“Ek is baie gelukkig met my tyd van 2:25:28 en ‘n nuwe nasionale rekord. Ek het regtig hard gewerk en wou dit só graag gehad het nadat ons die rekordtyd verlede jaar net misgeloop het.

“Daar is nog baie wat ek oor die hele ervaring wil sê, maar vir nou is dit tyd om my persoonlike beste tyd te vier met Irvette van Zyl, wat ook ‘n reuse-PB van 2:28:40 gehardloop het. “Baie dankie aan elkeen wat hieraan deelgeneem het. My waardering strek veel verder as om ‘n 42,2 km te kon hardloop, dit is ook vir almal wat in my geglo het!

“Hierdie een was vir ons almal.”

Elana Meyer se 2:25:15 by die Boston Marathon in 1994 word nie as ‘n amptelike rekord beskou nie. – MORGAN PIEK