Oud-Greys maak fietsry-geskiedenis

0
1582
Van links is Christiaan Grobler, Deon Steyn, Lourens Kleynhans, Gerhard Beukes, Jaco Prinsloo, Herman Reinach, Braam van Wyk en David Roberson. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

‘n Laataand-gesprek tussen twee ou skoolvriende oor hoe kort die lewe werklik is, gaan binnekort verander in geskiedenis, wanneer meer as 60 oud-Greys as groep gaan deelneem aan die Kaapstad-fietstoer om bewustheid te skep van kanker en diabetes.

Oudleerder van Grey-kollege, Raymond van Niekerk, tans professor in bemarking aan UTC (University of Cape Town) is ‘n 5% kans gegun om drie jaar te oorleef nadat hy gediagnoseer is met fase-4-nierkanker. Hy ly ook aan tipe 1 suikersiekte.

Tydens ‘n saamkuier tussen Van Niekerk en Bertus Preller, albei van Kaapstad, is besluit om Oud-Greys te betrek en hierdie jaar as ‘n groep in te skryf vir die Kaapstad-fietstoer.

Meer as 60 Oud-Greys van Bloemfontein sal op 8 Maart 2020 geskiedenis maak deur die eerste skool ter wêreld te word wat as oud-leerders aan die byeenkoms deelneem.

Preller vertel dat daar nog nooit in die geskiedenis van dié wedren ‘n skool was wat soveel oudleerders ingeskyf vir liefdadigheid nie. “Ons het besluit om nie net op ons eie lede te fokus nie, ons wil dit anders doen; ons voel ons kan meer doen vir mense daar buite, soos byvoorbeeld diegene wat nie ‘n mediese fonds het nie en elke dag worstel met die werklikheid van kanker en diabetes.”

Dit het 60 minute geneem om 60 Oud-Greys te kry om by te dra. Hy sê, “Ons doen dit vir almal wat ‘n lewenstryd aanpak en vra mense om hul harte en beursies oop te maak vir diegene in nood.”

Die groep, 60 Shades of Old Grey Cyclists, span saam met CANSA en Diabetes SA en bestaan uit aktiewe sportmanne wat fietsry, deelneem aan die ystermankompetisie, die Comrades hardloop en ander sportsoorte beoefen. Die groep is tussen die ouderdom 25 en 65 en van hulle is manne wat 30 tot 40 jaar gelede in hul skooljare laas op ‘n fiets was.

Oud-Grey, David Roberson, een van die fietsryers, is baie trots om deel te wees van ‘n groep wat vir die eerste keer in die geskiedenis soiets doen. “Om saam met hierdie ouens deel te wees van hierdie geskiedenis-maak-geleentheid, is fantasties. Om saam te kuier, bring baie herinneringe uit die ou dae. Ons geniet sulke goeie en opwindende tye met baie gelag en grappe onder mekaar en ons sien uit daarna,” sê Roberson. – Pierce van Heerden
pierce@mahareng.co.za