OWEN KOCK
Na vier dae van intense onderhandelinge deur die hulporganisasie Gift of the Givers, het hulle daarin geslaag om die voormalige Bloemfonteinse onderwyser Yolande Korkie in Yemen van haar ontvoerders te bevry.
Sy is in Mei verlede jaar saam met haar man Pierre, deur Al-Qaeda gyselaar geneem en daar is ‘n losprys van $2 miljoen ge-eis vir haar vrylating na onderhandelinge begin het. Sy is vanoggend om 06h00 vrygelaat sonder dat die losprys betaal is. Die gyselaars eis nou $3 miljoen vir Pierre se vrylating en het Gift of the Givers agt dae gegee om die losprys te betaal.
Volgens Gift of the Givers se Imtiaaz Sooliman het die gyslaars hulle Maandag gebel waarna die onderhandelinge begin het.
“Hulle het nie eers die moeite gedoen om hul gesigte toe te maak of om maskers te dra tydens ons ontmoetting nie. Hulle het dit ook duidelik gestel dat hulle van Al-Qaeda is. Ons het hulle meegedeel dat ons ‘n hulpornagisasie is en dat ons nie geld het nie, maar graag die gesin wou help.
“Na vier dae van taai onderhandelinge het hulle Yolande vanoggend om 06h00 vrygelaat. Sy is veilig in ‘n hotel en nou begin die onderhandelinge oor Pierre se vrylating” het Sooliman aan Courant gesê.
Daar is reeds in Mei verlede jaar begin die vrylating van die Korkie’s te bewerkstellig, maar dit het egter nie gewerk nie, het Sooliman gesê.
“Ons het toe (verlede jaar) oral in die verskillende stede rondbeweeg en ons kontakbesonderhede aan mense gegee wat moontlike inligting het oor waar hulle kon wees, en ons het selfs gevra dat die ontvoerders met ons in verbinding tree. Na al die tyd, het die ontvoerders ons eers Maandag gebel en Dinsdag is die onderhandelingsproses begin,” het ‘n verligte Sooliman gesê.
Hy sê hulle fokus nou daarop om Pierre se vrylating te bewerkstellig, maar hulle weet dit gaan nie ‘n maklike proses wees nie, aangesien die ontvoers die losprys van $3 miljoen binne agt dae wil hê.