Oud-Bloemfonteiner vertel van chaos in Dubai weens reën

0
3032
Foto: Corneli van den Heever

Dit reën katte en honde in Dubai. Paaie in die woestynstad is verspoel, verkeer is vertraag en skoolkinders is selfs huistoe gestuur.

Corneli van den Heever, ‘n oud-Bloemfonteiner wat al vir meer as vier jaar saam met haar gesin in die stad bly, sê toe sy en haar man, ‘n finansiële bestuurder by ‘n internasionale maatskappy, en hul drie kinders vanoggend wakker word het dit reeds gereën. Volgens haar sous dit sedertdien. Van den Heever sê inwoners van Dubai is nie gewoond aan dié harde deurdringende reën nie, omdat reën maar skaars is in die geweste.


“Dubai is nie gebou vir reën nie. Die paaie verspoel omdat daar nie aflooppype is nie.” Dit is chaos in die stad met mense wat nie na hul huise, werkplekke, kerke en skole kan reis nie. Sy sê diegene wat wel waag om te ry waag dit deur strome water in die strate. “Die motors vrek sommer in die ry omdat die paaie verspoel is.”

Van den Heever sê mense ry stadig en neem foto’s vanuit hulle motors om die ongelooflike ervaring op kamera vas te vang. Sy sê dit wil voorkom of die weer nie vanmiddag al gaan opklaar nie. – Christal-Lize Muller