Die OSM Camerata, onder leiding van dirigent Anmari van der Westhuizen, gaan gehore bekoor met ’n asemrowende konsert by die Bloemfonteinse Anglikaanse katedraal op Sondag 21 April 2024, om 16:00.
Toegang tot hierdie musikale ekstravaganza is gratis, en bied musiekentoesiaste die seldsame geleentheid om die magie van klassieke komposisies te ervaar.
Volgens Marius Coetzee, stigter van die Odeion Skool vir Musiek (OSM) Camerata en internasionale koördineerder, is die hoofwerk van die konsert die Stabat Mater deur Giovanni Pergolesi.
“Die Stabat Mater is een van Pergolesi se mees gevierde heilige werke wat gewild geraak het ná die komponis se dood. Die liturgiese gebruik van die 13de-eeuse gedig Stabat Mater Dolorosa het deur die eeue gewissel, en dit is in die heersende style van elke era gesetel,” het Coetzee gesê.
Hy het bygevoeg dat Pergolesi ’n ongelooflike verskeidenheid van klanke en stemmings skep uit hierdie baie formele teks en sy redelik ingehoue kragte – twee solo-stemme, strykers, en, in hierdie uitgawe, ’n orrel continuo.

“Die konsert sal begin met die immergroen Concerto Grosse Opus 6 No.4 deur Arcangeli Correli. Die bewegings volg die uitleg van ’n ander soort Barokinstrumentale musiek, die kerksonate: stadig-vinnig-stadig-vinnig,” het Coetzee verduidelik.
Soliste vir die konsert sluit in die sopraan Ilze van Staden, die mezzosopraan Teresa de Wit, en die continuospeler Louis van der Watt.

VERSKAF
Vir meer inligting kontak Marius Coetzee by 072-338-2240 of coetzeeml@ufs.ac.za.
Justine Fortuin