Osler was een uit ’n miljoen

0
572
South Africa's Bennie Osler. Photo: ESPN

Die Springbokke se skok-oorwinning oor die All Blacks twee weke gelede het ons ou landjie soos ‘n oordosis Prozac getref.

Wanneer was daar laas so ‘n nasionale euforie en ommeswaai van emosies? Dalk toe Gerrie Coetzee vir Leon Spinks uitgeslaan het? (Nou verklap ek my ouderdom…)
In hierdie era waarin ons byna twaalf maande van die jaar groot rugbywedstryde op TV kan kyk, vergeet ‘n mens dat dit nie altyd so was nie. Ek het weer Chris Greyvenstein se wonderlike boek, SPRINGBOK-SAGE, van die rak afgehaal en deurgeblaai. Net een woord kan dit beskryf: Nostalgie.

Die All Blacks se heel eerste toer na Suid-Afrika was in 1928, vanjaar presies negentig jaar gelede. En die één naam wat uitstaan as ‘n mens oor daardie toetsreeks lees, is die naam van die legendariese losskakel en skepskopkoning, Bennie Osler. Ek is geen profeet of siener nie, maar ek dink nie ons gaan negentig jaar van nou af met dieselfde ontsag en respek van Handré Pollard en Elton Jantjies praat nie.

Bennie Osler het tussen 1924 en 1933 die Springbokke in sewentien opeenvolgende toetse verteenwoordig. Die eerste toets in 1928 teen Maurice Brownlie se All Blacks op Kingsmead in Durban, was die enigste toets waarin Osler en sy broer, Stanley, saam vir die Bokke sou opdraf. Bennie het daardie middag, toe ons die All Blacks met 17-0 verneder het, nie minder nie as 14 punte aangeteken, ‘n rekord wat eers twee dekades later deur Okey Geffin verbeter sou word.

Daar was ‘n groot bohaai toe die toets nie deur die destydse radionetwerk, wat nog in private besit was, uitgesaai kon word nie. Die radiomense het die poskantoor blameer, wat glo “telefoongeriewe” geweier het.

Interessant dat die Springbokke op daardie middag negentig jaar gelede in Durban, net na die All Blacks hulle Haka uitgevoer het, met ‘n eie strydkreet, “‘n mengsel van geradbraakte Zoeloe en brabbeltaal” in Bennie Osler se woorde, geantwoord het.

Dis ‘n besondere voorreg om Bennie Osler se broerskind, die Zen-meester en skrywer, Antony Osler, my groot vriend te kan noem.

Albé Grobelaar