Organisasie inspireer jong vroue

0
673
Die vroue agter die Woman2Woman-inisiatief is van links, Beachachia Hurst, Laurika du Preez, Wendy Derison en Malishia Leeuw.

Ter viering van Vrouemaand, het Woman2Woman, ‘n organisasie wat deur ‘n groep vroue van Heidedal begin is, op Sondag 29 Augustus hul eerste ete vir 40 jong vroue gehou by E’Kays Place in Heidedal.

Woman2Woman is ‘n organisasie wat vroue wil ophef en waar hulle mekaar wil inspireer. “Ons doel is om jong vroue te ondersteun, leiding te gee, hulle op te voed, te onderrig en op te hef.

Ons wil aan hulle die vaardighede gee om geestelike gesondheidskwessies, veiligheid, geslaggebaseerde geweld, armoede, tienerswangerskap en blootstelling aan dwelms te hanteer,” het Beauchachia Hurst, een van die stigters van die organisasie, gesê.

Volgens Hurst was die geleentheid ‘n groot sukses en het dit vir almal baie beteken. “Dit wys net dat wanneer ons as vroue mekaar ondersteun, ons wat ook al oor ons pad kom, kan hanteer, en dat ons, wat ook al ons besluit ons wil regkry, dit kan regkry, dit met God aan ons kant.”

Die sleutelfokkus van die ete was om kwessies waaroor die organisasie bekommerd is, in die kollig te plaas. Hurst het gesê dat die meerderheid van vroue uit armoede geteisterde huishoudings kom. Elke vrou het ‘n geskenk met selfsorg-toilet- en sanitêre ware ontvang.

“Ons sien uit na ons volgende geleentheid en ons doel is om mekaar te help groei as vroue, maak nie saak wat jou agtergrond of die pyn waardeur jy gegaan het nie.”

Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za