Ná sewe jaar kry die Gerrie Berner-tennistrofee weer staanplek in Bloemfontein. Oranje se eerste tennisspan het dié Paarlse toernooi Saterdag gewen deur Bloemhof in die eindstryd met vier wedstryde teenoor een te verslaan.
Dít nadat die Bloemhoffers vir Oranje in die vorige vyf jaar se eindstryde geklop het. Die Oranjeniete was tussen 2012 en 2015 die kampioen.
Meeste van die land se sterkste skolespanne was teenwoordig en Oranje het dit boonop vermag met ‘n baie jong span. Twee lede (Ansoné Theron en Donna le Roux) is gr. 9’s en twee lede is in gr. 10 (Mia en Nina Schimper).
Oranje was onoorwonne ná seges ook behaal is oor Waterkloof (4-0, halfeindstryd), die Uitnodigingspan (7-0), Menlopark (5-2), Helpmekaar College (6-1), Paarl Girls’ High (5-2) en Rhenish (5-2).
Vir die matrikulante Liné Greyling en Lezaan Swanepoel was die oorwinning ekstra spesiaal, aangesien hulle ook in hul laaste jaar van laerskool in 2017 die toernooi vir laerskole gewen het as lede van Oranje Primêr.