Oranje-trommies wéér skitterend

0
765

RUFUS BOTHA

Gemeet aan die tweede en derde Vrystaat-trompoppiebyeenkomste wat in Bloemfontein beslis is, gaan die Vrystaatkampioenskap (6 Junie) ‘n trommies-katgeveg soos min wees in die afdeling vir hoërskole.

In die een hoek gaan dit die meisies van JF (Jim Fouché) se Drummieklub (soos hulle bekend staan) wees en in die ander hoek die gasvrou van die Vrystaatbyeenkoms, die Hoër Meisieskool Oranje.

JF, een van die bekendste en voorste trompoppiespanne in die land, het onlangs (tweede Vrystaatbyeenkoms) vir seker een van hulle laagtepunte ooit in dié sport beleef toe Oranje die JF-meisies in nie minder nie as 13 dissiplines ore aangesit het. O ja, hulle het in slegs 13 teen mekaar meegeding.

Oranje is egter verlede week by die derde Vrystaatbyeenkoms deur JF gewaarsku dat hulle op pad terug is en verbete gaan veg om hulle titel as die provinsie se beste te behou. Oranje het weer die oorhand gehad, maar het dié keer nie weer alles gewen nie.
In die vlaggroep- en grootdril-vlagvertoningdissiplines het JF vir Oranje in die tweedeplek ingedwing.

JF het sy terugvegpoging onderstreep deur gelyk te trek met Oranje in die grootdril-leierafdeling en ook die kleindrilgroep (squad)- dissipline.

Wat die dames van JF steeds slapelose nagte gaan besorg is dat Oranje in die nege ander dissiplines alleenwenners was waar dié twee trommie-‘aartsvyande’ mekaar getakel het.

Wat die laerskole aan betref behoort die Vrystaatkampioenskap sy eie katgeveg te beleef en weer is JF betrokke.
Hulle het by die derde byeenkoms vyf van die 13 dissiplines waar hulle teen die hardwerkende Laerskool Brandwag te staan gekom het, gewen. Maar Brandwag was een beter – hulle het agt dissiplines gewen en boonop elke keer tweede geëindig wanneer JF as oorwinnaars aangewys is. JF kan egter nie dieselfde sê nie – hulle was ‘n slag derde en gelyk tweede toe Brandwag die kitaar geslaan het.

Die ander spanne in die hoërskoolafdelings kon nie in indruk maak teen Oranje en JF nie.
Die Suid-Afrikaanse trompoppiekampioenskap vind 4 tot 11 Julie by die Tempe-stadion in Bloemfontein plaas en behoort oudergewoonte iets te wees om nié mis te loop nie.

info@bloemfonteincourant.co.za