Oranje-meisies swem verskeie medaljes los

0
3982

Sewe swemmers van Oranje Hoër Meisieskool is ingesluit in die Vrystaatse swemspan vir die jaarlikse tussen-provinsiale swemgala vroeër vandeesmaand in Oudtshoorn en het verskeie medaljes verower.  Die Oranje-swemmers, wat in die Vrystaatse span ingesluit is, is: Carine Theunissen, Esmarie Theart, Carike Moolman, Marné Frylinck, Johanré Els, Jolandi Els en Juané du Plessis.

Die groot uitblinker was Jolandi Els (o.16). Sy het vier goue medaljes in die 200-wisselslag, 100-borsslag, 100-rugslag en 50-vryslag verower.  In die o.18-ouderdomsgroep het Oranje se swemkaptein, Juané du Plessis, ook twee goues in die 200-wisselslag en 100m rugslag verwerf en ’n tweede plek in die 50-rugslag vir die Vrystaat losgeswem. ’n Swemmer van wie daar baie in die toekoms verwag word, is Marné Frylinck (o.15). Sy het twee silwermedaljes en ’n brons verower en is besig om haar as een van die Vrystaat se staatmakers te vestig.

Marné Frylinck het intussen ook deelgeneem aan die Time Freight Maselspoort oopwater-swemkompetisie vroeër in Januarie. Sy het deelgeneem in die 3km vir 14-15 jaar. Sy het die uitputtende nommer gewen.