Oranje maak netbalgeskiedenis

0
302
Die eerste netbalspan van die Hoër Meisieskool Oranje, nuwe Vrystaatse kampioen, is van links, voor: Carli Olivier, Lisa Cronje, Surené Fourie (kaptein), Enid Bezuidenhout en Minke Kruger; agter: Anne-Marie Klink (spanbestuurder), Janine Moolman, Bianca Pienaar, Retha Erasmus (afrigter), Eilir Lindeque en Lise Bezuidenhout. FOTO’S: BLOEMFONTEIN ACTION PHOTOS

Ná 35 jaar se probeerslae kon die Hoër Meisieskool Oranje se eerste netbalspan uiteindelik hul hande op die Vrystaat-trofee lê.
Oranje het Saterdag in die eindstryd van die Vrystaat-kampioenskap (bekend as die Vrystaatdag) op die bane van die Hoërskool Sentraal vir ’n groot opskudding gesorg deur die Tralies met 22-21 te troef.
Sentraal, nie-amptelik tans die land se naasbeste span ná sy tweede plek op verlede maand se Wildeklawer-Superskole, het in die voorafgaande ses weke Oranje twee maal in die stadsliga met 13 en 11 doele verslaan.
Dié kampioenskap, waar die twee voorste spanne uit elke streek meeding, word sedert 1984 aangebied. Dit was aanvanklik as die Direkteurstrofee bekend. Sentraal het die trofee van 2007 tot 2018 klokslag verower.

Die Hoër Meisieskool Oranje se o.14A-, o.16A-, o.17A- én o.18A-span is almal vanjaar se provinsiale netbalkampioene.

Benewens Oranje se eerste span, is dié skool se o.14A-, o.16A- en o.17A-span ook die provinsiale wenners. Dis ’n eerste vir die skool.
Ook Oranje Primêr se o.13A- en o.12A-span het koning gekraai.
Die trane het gevloei toe die eindfluitjie na die eerstespan-kragmeting geblaas is.
Volgens Surené Fourie, senter en kaptein van die eerste span, was niemand presies seker wie voor was nie aangesien die telbord nie tydens die wedstryd in gebruik was nie.
“Toe ek die trane op die gesigte van ons afrigter (Retha Erasmus) en spanmaats op die plaasvervangersbank sien, het ek besef dis ons wat gewen het.
“Dis ongelooflike gevoel. Alle eer aan die Here. Hierdie is iets waarna ons gewerk het. En ons het dit vermag. Ons het die wedstryd benader as ’n skoon lei en geglo ons kon uit ons vorige nederlae teen hulle leer,” het Fourie gesê.
info@bloemfonteincourant.co.za