Oranje maak hul stem weer dik in netbal

0
224
Die Hoër Meisieskool Oranje se eerste netbalspan is vir die eerste keer ooit gelyktydig die distrik- en provinsiale kampioene. FOTO: OMS

Die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein se vyf A-netbalspanne het vanjaar hulle stemme behoorlik dik gemaak deurdat hulle almal onder die top-twee spanne in die Vrystaat geeindig het. Sodoende het die spanne almal vir nasionale kampioenskappe gekwalifiseer.
Oranje se o.14 -, o.15-, o.17 en o.18-spanne is almal vanjaar die Vrystaatkampioene, terwyl die o.16 span as die naaswenners geeindig het.
Die span het almal gekwalifiseer vir die Suid-Afrikaanse kampioenskappe wat in Augustus in Boksburg sal plaasvind.
In die netbalgeskiedenis van die skool is dit slegs die tweede keer dat vier van die vyf A-spanne as die Vrystaatkampioene gekroon is. Oranje het in 2019 ook met die prestasie gespog.
Oranje se eerstespan het Vrydag met 26-23 teen Hoërskool Sentraal koning gekraai om hulle titel te verdedig. Die kampioenskappe is vir die eerste keer sedert 2019 gespeel en dus het Oranje die trofee behou. Dit is ook die eerste keer dat die eerstespan in die dieselfde jaar as die Motheo-distrik en Vrystaat kampioene gekroon is. Verlede maand het Oranje vir Sentraal met 39-35 getroef om die Motheo-titel in te palm.
In die halfeindstryd het Oranje vir Hoërskool Voortrekker van Bethlehem met 29-17 getroef en tydens die groepwedstryde het hulle maklik vir Hoërskool Wilgerivier (Frankfort) met 31-14 geklop, vir Hoërskool Goudveld (Welkom) met 28-13 getroef, en met Hoërskool Witteberg (Bethlehem) afgereken met 44-3.
Oranje het 41 van hulle 44 wedstryde gewen vir ‘n wenpersentasie van 93%. Hulle beklee tans die derde plek op die nasionale ranglys. – MORGAN PIEK