’n Tennisfees word vandeesweek in Bloemfontein verwag met die aanbreek van die gesogte 2025 Amanda Coetzer-toernooi van Hoër Meisieskool Oranje, wat Donderdagoggend afgeslaan sal word.
Vanjaar word ’n tweestryd verwag tussen die gasheerspan Oranje en Rhenish Girls’ High van Stellenbosch, in wat die 26ste weergawe van die toernooi sal wees.
Die twee spanne het verlede week in die Moederstad sake uitgespook in die eindstryd van die National All Girls’ Festival, waar die span van Bloemfontein koning gekraai het teen die skool van die Eikestad. Vir Oranje was dit die vierde agtereenvolgende jaar waarin hul eerstespan die All Girls-toernooi gewen het, en ook die tiende keer in die afgelope elf jaar.
Twee jaar gelede het Oranje en Rhenish mekaar ook gepak in die eindstryd van die Amanda Coetzer-toernooi, en Oranje het met ’n beslissende enkelspelwedstryd geseëvier.
Verlede jaar het Oranje daarin geslaag om hul titel te verdedig en het dus slegs die derde span geword om dié spogtoernooi vir drie of meer agtereenvolgende jare te wen. Ná Hoërskool Waterkloof (Pretoria) en Hoër Meisieskool Bloemhof (Stellenbosch), was Oranje die derde skool om hierdie prestasie te behaal.
Oranje het laas in Mei 2019 ’n wedstryd by die toernooi verloor – dit was teen dieselfde Bloemhof in die eindstryd. Daar was egter geen Amanda Coetzer-toernooi in 2020 en 2021 nie, vanweë die Covid-19-pandemie.
Wat verder tot die tweestryd sal bydra, is dat daar ’n oud-Oranje-leerder in Rhenish se span is. Cara le Grange het in 2023 en 2024 vir Oranje se eerstespan gespeel, maar gaan sedert die begin van vanjaar by Rhenish skool.
Oranje beskik oor vier spelers wat vanjaar vir nasionale spanne gekies is. Donna le Roux het vir die SA senior vrouespan gespeel, Mandie en Lika Claassens was in aksie vir die SA o.15-skolespan, en Nestine van Rooyen is vir die SA o.17’s gekies.
Dié spogtoernooi begin Donderdag in Bloemfontein en die eindstryd sal Saterdag beslis word. – MORGAN PIEK