‘Oranje-hospitaal’ laat hul rooi sien

0
1524
Die Vrystaat Psigiatriese Kompleks word bevraagteken oor die dienste wat hulle lewer. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Luidens ‘n onlangse opname deur ‘n eksterne party om pasiënt-tevredenheid te meet, is die Vrystaat Psigiateriese Kompleks (Oranje-hospitaal) die beste hospitaal onder gespesialiseerde, streeks- en tersiêre hospitale in die provinsie. Pasiënte, asook vriende en familie van pasiënte stem egter nie hiermee saam nie.

‘n Ouer van ‘n pasiënt wat in die forensiese eenheid opgeneem is, het op voorwaarde van anonimiteit met Bloemfontein Courant gepraat oor haar ervaring by die hospitaal. Sy is bitter ongelukkig met die diens wat die hospitaal lewer en die manier waarop pasiënte en selfs besoekers daar behandel word.

“Daar is ‘n tekort aan personeel en van die susters en dokters is uiters onprofessioneel, ongeskik en onbehulpsaam. As mens die hospitaal bel, kan die suster aan diens nie eens die telefoon ordentlik antwoord nie. Dokters is nooit in die saal nie en kan dus nie bereik word vir navrae nie,” het die ouer vertel.

Volgens haar is die sekuriteit nie veel beter nie en as besoeker ervaar sy dat daar onder sekuriteitspersoneel ‘n traak-my-nie-agtige houding is wanneer familie pasiënte in die hospitaal gaan kuier.

Wanneer dit by die pasiënt self kom, voel dié ouer dat hulle soos misdadigers behandel word. “Hulle het skaars ‘n bed om in te slaap. As hulle gaan stort, moet hulle twee-twee stort. Pasiënte word geensins gestimuleer deur oefeninge of aktiwiteite nie. Hulle het net twee keuses: om televisie te kyk of in die son te gaan sit.

“Dan wil ek nie eens praat oor die medikasie wat pasiënte ontvang nie. Ek besef die hospitaal moet soms toets water tipe medikasie die beste werk, maar die pasiënte is nie proefkonyne nie. Hulle word so erg sedeer dat hulle skaars kan beweeg of funksioneer. Hulle slaap basies aanhoudend.”

Ondanks die slegte ervaring, is die ouer dankbaar teenoor sommige van die personeel. “Ek wil dankie sê aan die een of twee sekuriteitswagte en susters wat ‘n besoek draagliker maak deur altyd te glimlag en bereid is om te help.”

Vrystaatse Departement van Gesondheid het by navraag aan Bloemfontein Courant gesê die forensiese eenheid by die Vrystaat Psigiatriese Kompleks word bestuur deur ‘n bekwame, meelewende en sorgsame psigiater wat dit sy werk maak om te verseker dat pasiënte die beste sorg moontlik ontvang ondanks beperkte beskikbare bronne.

“Ons is tans in die proses om bykomende personeel te werf, veral verpleegsters, om die verhouding van personeel tot pasiënte te verhoog en sodoende verbeterde pasiëntesorg te lewer. Dit sal ook help om pasiëntetoesig te verbeter en meer pasiëntaktiwiteite te verseker. Die Allied Health-span het ‘n vaardigheidsontwikkelingsarea en rehabilitasiesentrum waar pasiënte in kleiner groepe aan ander aktiwiteite kan deelneem.

“Die hospitaal het ‘n klagtebestuurstelsel. Indien enige familielid ‘n klagte het, kan hulle 051-407-9338/0800-53-55-54 skakel of ‘n e-pos stuur aan mofokengmp1@fshealth.gov.za. Terwyl daar op bykomende inligting gewag word, sal ons egter met ‘n interne ondersoek en proses begin na personeel wat besoekers manipuleer en viktimiseer,” sê Mondli Mvambi, woordvoerder vir die departement. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za